Wie kies uiteindelik die burgemeester?

Oudtshoorn se Top 3, watter partye gaan voor vat? Foto deur middel van Kunsmatige Intelligensie verander.

Wanneer politieke partye hul burgemeesterskandidate bekend maak, beteken dit nog nie dat dié persone ná die verkiesing die burgemeestersketting gaan dra nie. Kiesers bepaal wie in die munisipale raad verteenwoordig word, waarna die raad die burgemeester verkies.

Daar is dus twee afsonderlike prosesse: ’n party kies wie hy as burgemeester wil voorstel, en die munisipale raad verkies uiteindelik wie die pos beklee.

Hoe kies ’n party sy kandidaat? Elke politieke party volg sy eie interne reëls en keuringsproses. Dit kan benoemings, onderhoude, beoordeling van ervaring en goedkeuring deur die party se toepaslike besluitnemingstrukture insluit. Die presiese proses verskil van party tot party.

Wanneer iemand as ’n burgemeesterskandidaat aangekondig word, stel die party dié persoon aan kiesers bekend as sy voorkeur vir die pos. Dit is egter nie ’n aanstelling as burgemeester nie.

Stem inwoners regstreeks vir ’n burgemeester? Nee. By munisipale verkiesings stem inwoners vir wyksverteenwoordigers en politieke partye. Dié uitslae bepaal die samestelling van die munisipale raad. Daar is nie ’n afsonderlike stembrief waarop inwoners regstreeks ’n burgemeester kies nie.

Volgens die Wet op Munisipale Strukture verkies ’n munisipale raad ’n uitvoerende burgemeester uit sy eie lede. Die persoon moet dus eers ’n raadslid wees voordat hy of sy tot dié pos verkies kan word.

Moet die kandidaat sy of haar wyk wen? ’n Burgemeesterskandidaat hoef nie noodwendig ’n wyk te wen nie. Die persoon kan ook deur ’n party se proporsionele verteenwoordigingslys ’n raadspos bekom, mits die verkiesingsuitslag en die toepaslike lysproses dit moontlik maak. ’n Wyks-raadslid of ’n proporsionele raadslid kan dus as uitvoerende burgemeester verkies word.

Wat gebeur as geen party ’n meerderheid het nie? Dan kan partye onderhandel oor ’n koalisie of ooreenkom om ’n bepaalde kandidaat te ondersteun. Die party met die meeste setels se kandidaat word dus nie outomaties burgemeester nie: steun in die raad is deurslaggewend.

Waar meer as een kandidaat benoem word, maak die wet voorsiening vir ’n verkiesingsproses in die raad. Indien slegs een kandidaat behoorlik benoem word, word dié persoon verkies verklaar.

’n Party se aankondiging van ’n burgemeesterskandidaat is gevolglik ’n aanduiding van wie hy graag aan die stuur wil sien. Die uiteindelike besluit word deur die verkose raad geneem.

Hoe word die onderburgemeester gekies? Die onderburgemeester word ook deur die munisipale raad uit sy lede verkies, waar die munisipaliteit se goedgekeurde bestuurstelsel vir dié pos voorsiening maak. Inwoners stem dus nie regstreeks vir ’n onderburgemeester nie.

Die uitvoerende onderburgemeester neem die burgemeester se bevoegdhede en pligte waar wanneer die burgemeester afwesig of nie beskikbaar is nie, of wanneer die pos vakant is.

Wat is die speaker se rol? Die speaker word deur die raad uit sy lede verkies en tree as voorsitter van raadsvergaderings op. Die speaker moet orde handhaaf, toesien dat vergaderings volgens die raad se reëls verloop en verseker dat die raad minstens een keer per kwartaal vergader.

Die speaker help ook verseker dat raadslede die toepaslike gedragskode nakom. Terwyl die burgemeester uitvoerende politieke leiding gee, lei die speaker die raad se vergaderings en bevorder behoorlike besluitnemingsprosedures. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Wie kies uiteindelik die burgemeester?"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*