Oudtshoorn se trompoppies het hul merk op nasionale vlak gemaak toe twee plaaslike laerskole uitstekende uitslae by die SAMCA Nasionale Kampioenskappe in Gauteng behaal het.
Die ritme van tromme, die kleur van wapperende vlae en die presisie van perfek uitgevoerde bewegings het die verhoog gevul tydens die Primary President League Challenge Cup.
Saturnus Primêr het hul status as een van Suid-Afrika se voorste trompoppie-spanne bevestig deur vir die tweede agtereenvolgende jaar as algehele wenners van die Presidentsliga gekroon te word.
Vir Saturnus Primêr was die dag die bekroning van maande se harde werk, opoffering en toegewyde voorbereiding.
Die span het die beoordelaars beïndruk met hul tegniese vaardigheid, kreatiwiteit en foutlose uitvoering. Hulle het eerste plekke ingepalm in Non-Prop, Flag, Mace en Stage Baton.
Die span se prestasies het voortgeduur in die Small Drill-afdeling, waar hulle ’n vyfde plek vir Small Drill Leader, eerste plek vir Sub-Leader, eerste plek vir Squad, eerste plek vir Display en uiteindelik die algehele eerste plek in Small Drill behaal het. Hierdie uitslae het Saturnus Primêr as die algehele wenners van die Primary President League Challenge Cup bekroon.
Die oorwinning is meer as net nog ’n trofee in die skool se vertoonkas. Dit weerspieël die ure se oefening ná skool, die opoffering van vakansietyd en die deursettingsvermoë van elke trompoppie wat vasbeslote was om hul beste te lewer. Elke deelnemer het met trots, dissipline en passie opgetree en die waardes van hul skool uitgeleef.
Groot waardering is uitgespreek teenoor die afrigters, juffroue Jamie Lee Botha, Shaunese April en Bianca Hendriks, wie se leiding en onbaatsugtige toewyding die span gehelp het om hul volle potensiaal te bereik.
Die trompoppie-sameroeper, Juffrou Murayda Human, het met deeglike beplanning en uitstekende organisasie verseker dat elke aspek van die voorbereiding en deelname suksesvol verloop het.
Die skool het ook hul trompoppie-komitee bedank, bestaande uit juffroue Algeron Willeman, Tiffany Levendal, Crystal Hufke, Elzette Manewil, Maxine Piedt en Zoe Frans, asook Mnr. Jenwill Saptouw en die sportkoördineerder, Daylon Paulse.
Hul ondersteuning agter die skerms het ’n belangrike rol gespeel in die span se sukses. Aiden Felkers, die span se fotograaf, is bedank vir die vasvang van elke kosbare oomblik wat nog jare lank herinneringe sal oproep.
Die skool het ook hul opregte dank uitgespreek aan die ouers en ondersteuners wat lang afstande gereis het om die span aan te moedig. Hul entoesiasme en aanmoediging vanaf die paviljoen het die meisies geïnspireer om hul beste te gee, terwyl die ondersteuning van ouers wat van die huis af gevolg het, ewe veel beteken het.
Terwyl Saturnus Primêr die hoogste eerbewys ontvang het, het Sacred Heart Primêr hul eie merkwaardige suksesverhaal geskryf. Die skool se trompoppies het tussen 18 skole ’n uitstekende tweede plek in die Challenge Cup behaal en daarmee bewys dat toewyding en spanwerk indrukwekkende resultate kan oplewer.

Sacred Heart Primêr se uitslae sluit in vierde plekke in Non-Prop en Flag, ’n vyfde plek in Baton, tweede plekke in Mace, Small Drill Leader, Squad en Display, asook ’n derde plek vir Sub-Leaders. Die span het ook die algehele tweede plek in Drill verower, wat uiteindelik gelei het tot hul algehele tweede plek in die Challenge Cup.
Die skool het hul gelukwense oorgedra aan elke leerder, afrigter, onderwyser en ouer wat deel was van hierdie prestasie. Hul harde werk, dissipline en deursettingsvermoë het nie net uitstekende uitslae opgelewer nie, maar ook gewys wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamwerk.
Die span se leuse uit Filippense 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” – het hul vasberadenheid en geloof weerspieël.
Die skool het ook hul trompoppie-komitee bedank, bestaande uit afrigters Shawnna Campher en Caitlin Blaauw. Hulle is ook oud trompoppies van Sacred Heart. Die administratiewe span mes. Le-che Wagenaar, Donnithe Ayford, Cara Terblanche, Jadey Solomons, Doreen Jantjies en Garth Hurling vir hulle bydrae tot die span.
Die uitslae van vanjaar se Primary President League Challenge Cup bevestig dat beide Saturnus Primêr en Sacred Heart Primêr oor uitsonderlike talent beskik.
Albei skole het die gemeenskap trots gemaak en bewys dat sukses gebou word op dissipline, spanwerk en deursettingsvermoë. Vir die jong trompoppies is hierdie prestasies nie net medaljes en trofeë nie, maar herinneringe wat hulle vir die res van hul lewens sal koester.
Dit dien ook as inspirasie vir toekomstige deelnemers om met dieselfde passie, trots en vasberadenheid hul drome na te jaag. (GRANWILLE GOLIATH)


Lees ook: