Besigheidskamer dink saam oor pad vorentoe na vloede

Hoe herbou ’n dorp wanneer paaie gesluit word en die ekonomiese gevolge veel verder strek as wat op die oog af sigbaar is?

Dit was die vraag wat verlede Donderdag tydens die Oudtshoorn Sakekamer se Herbou vir Beter-gesprek sentraal gestaan het.

Die byeenkoms, wat deur Hans van der Veen en Herman Engelbrecht gelei is, het om en by 30 deelnemers uit ’n groot verskeidenheid sektore by die Oudtshoorn Gholfklub byeengebring om oor die impak van die onlangse vloede en die pad vorentoe te praat.

Die doel was nie om bloot oor die skade en probleme te kla nie, maar om na mekaar te luister, saam te dink en te bepaal hoe Oudtshoorn sterker kan herbou.

Die verskeidenheid mense wat aan die gesprek deelgeneem het, was reeds aan die tafels duidelik. Deelnemers is in groepe van vier verdeel, wat mense met uiteenlopende agtergronde en uit verskillende sektore saam om dieselfde tafel gebring het om na mekaar se ervarings te luister en idees uit te ruil.

Verlies strek veel verder

Johan Breunissen.

Johan Breunissen van Beans About Coffee en Douglas Eriksen van Cango Wildlife Ranch het die gesprek begin deur hul ervarings van die vloede en die gevolge daarvan te deel.

Breunissen het vertel dat die padsluitings ongeveer 30% van sy besigheid se omset weggevat het. Gesprekke met ander sake-eienaars het hom egter laat besef hoe wyd die skade strek.

Sommige besighede het volgens hom tot 80% van hul inkomste verloor, terwyl ander sukkel om betalings te ontvang van kliënte aan wie hulle goedere of dienste verskaf het. Petrolstasies, restaurante en gastehuise tel ook onder die ondernemings wat die uitwerking van die padsluitings voel.

Sy boodskap was egter dat inwoners steeds, waar moontlik, plaaslike ondernemings moet ondersteun sodat geld binne die plaaslike ekonomie kan bly en hier kan help.

Hy het ook benadruk dat ’n mens na ’n terugslag so gou moontlik vorentoe moet begin kyk en die fokus moet verskuif na die vraag: Wat doen ek nou?

Vloedskade wys Oudtshoorn se saamstaan

Douglas Eriksen.

Eriksen het vertel dat Cango Wildlife Ranch, wat sedert 1986 langs die rivier geleë is, verliese van ongeveer R4,5 miljoen gely het. Die onderneming se vloedversekering is weens sy ligging naby die rivier verwyder.

Ondanks die skade het iets anders egter sterk na vore gekom: die manier waarop Oudtshoorn se mense saamstaan.

Nagenoeg 300 vrywilligers het op die een of ander manier by die fasiliteit kom help.

“Ons kyk altyd na wat ons vir Oudtshoorn kan doen,” het Eriksen gesê.

Volgens hom kan Cango Wildlife Ranch slegs funksioneer as Oudtshoorn funksioneer, en Oudtshoorn kan op sy beurt slegs funksioneer as die groter streek funksioneer.

Volgens hom moet die fokus nie net op die onderneming self wees nie, maar ook op die gemeenskap.

Idees kom teen die muur

Deelnemers is in groepe van vier verdeel vir twee gesprekke. Die eerste het gefokus op die vraag: “Wat merk ek op – wat is die aard van die skade?” Die tweede gesprek het gevra: “Wat vra hierdie situasie van my en van ons?”

Tydens die tweede gesprek het die groepe ook moontlike oplossings en voorstelle neergeskryf. Die verskillende groepe het daarna beurte gekry om hul idees met almal teenwoordig te deel voordat die papiere teen ’n muur opgehang is.

Elke deelnemer het vervolgens drie sterretjies ontvang om by die drie voorstelle te plaas wat die meeste vir hulle uitgestaan het.

Een van die idees was die skep van ’n soort plaaslike “paspoort” wat verskillende aktiwiteite, besighede, restaurante en koffiewinkels kan saamvoeg en besoekers aanmoedig om meer van Oudtshoorn te ervaar.

Dit was egter opvallend dat verskeie groepe, onafhanklik van mekaar, dieselfde behoefte geïdentifiseer het: beter kommunikasie.

Voorstelle het gefokus op beter kommunikasie tussen verskillende rolspelers en platforms, duideliker inligting aan toeriste en beter kommunikasie vanaf die munisipaliteit.

Die boodskap was eenvoudig: as besoekers nie weet wat in die gebied gebeur, watter paaie beskikbaar is, wat steeds oop is en waar hulle hul geld kan bestee nie, ly die hele plaaslike ekonomie daaronder.

Sommige toeriste het hul besoeke gekanselleer omdat hulle aanvaar het dat die meeste besienswaardighede en ondernemings gesluit is. Die sluiting van die Kango Grotte het ook ’n domino-effek gehad, met die ekonomiese verlies wat veel verder gestrek het as die besienswaardigheid self.

Die gesprek was egter nie bedoel om by een byeenkoms te eindig nie. ’n Opvolgsessie word reeds beplan, en die Sakekamer hoop om deelnemers binne die volgende maand weer byeen te bring om op die idees en gesprekke van die eerste sessie voort te bou.

Die eerste byeenkoms het gewys dat Oudtshoorn se herstel nie net van paaie en infrastruktuur afhang nie. Dit hang ook af van hoe goed rolspelers met mekaar kommunikeer, hoe duidelik inligting aan inwoners en besoekers oorgedra word en of die dorp saam kan besluit wat volgende gedoen moet word. (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Petisie lei tot besoek van premier aan Oudtshoorn

Het ons die vloede help veroorsaak?

Young boy helps CWR after floods