Kollig op Jagseisoen 2026: Voor die eerste skoot

Foto: Dirk Swanepoel

Met die jagseisoen wat nou voorlê, word jagters herinner dat jag nie net ’n gewilde buitelugaktiwiteit is nie, maar ’n verantwoordelikheid wat deeglike voorbereiding, etiese optrede en respek vir die natuur vereis.

Volgens die SA Jagters- en Wildbewarings-vereniging is verantwoordelike jag gegrond op die beginsel dat diere nie onnodig moet ly nie, en dat ’n jagter daarna moet streef om met ’n enkele, goed geplaasde skoot ’n dier te dood.

Hierdie beginsel, die sogenaamde “eenslag- doodskoot”, vorm die kern van die jagterskode, wat ook beklemtoon dat jagters slegs moet skiet wanneer dit veilig is, die dier binne hul vermoë is, en die wild opgespoor en herwin kan word.

’n Onderwerp wat toenemend bespreek word in die bedryf, is die kwessie van misskote en die koste daaraan verbonde. Volgens bedryfskenners hef sommige grondeienaars ’n fooi, soms tot die volle waarde van die dier, selfs vir ’n sogenaamde misskoot.

Hoewel dit vir sommige jagters omstrede is, word dit vanuit die perspektief van grondeienaars geregverdig. Onakkurate skote kan diere kwes, wat nie net etiese implikasies het nie, maar ook finansiële verliese vir boere beteken.

Jagters word dus aangemoedig om hul vaardighede vooraf op skietbane te slyp en om nie skote buite hul vermoë te waag nie. Faktore soos wind, afstand, toerusting en skietposisie speel alles ’n rol in die sukses, of mislukking, van ’n skoot.

Jag gaan egter nie net oor die skoot nie, maar ook oor wat daarna gebeur. Die gehalte van wildsvleis, ’n belangrike aspek vir baie jagters, word reeds tydens die jag bepaal.

Kenners wys daarop dat swak skootplasing, soos ’n pensskoot, die vleisgehalte ernstig kan benadeel weens stres en bakteriese besmetting in die dier se liggaam.

Daarteenoor lewer ’n goed geplaasde skoot vleis van beter gehalte, mits die dier vinnig uitgebloei en korrek hanteer word.

Jagters word ook aangeraai om bewus te wees van wild wat kort voor jag na ’n ander gebied verskuif word. Dit kan moontlik die veiligheid van die jagproses en die gehalte van die vleis beïnvloed, aangesien diere soms met verdowings- of kalmeermiddels hanteer word om vang en vervoer te vergemaklik. Daar bestaan ’n risiko dat hierdie middels steeds in die dier se weefsel teenwoordig kan wees.

Benewens praktiese aspekte, plaas die jagterskode sterk klem op etiese optrede. Dit sluit in respek vir lewe, die veroordeling van sinnelose doodmaak en die verantwoordelike benutting van wild.

Jagters word ook aangemoedig om nie jag as ’n kompetisie te benader nie, en om waardigheid te behou in hoe hulle hul jag-ervarings deel, veral op sosiale media.

Die voortbestaan van verantwoordelike jagpraktyke lê grootliks in die hande van jong jagters. Opleiding, mentorskap en bewusmaking speel ’n sleutelrol om te verseker dat nuwe generasies die regte waardes en vaardighede ontwikkel.

Bedryfsorganisasies beklemtoon dat jag nie net oor die oes van wild gaan nie, maar oor die bewaring van natuurlike hulpbronne en die volhoubare bestuur daarvan.

Uiteindelik bly die boodskap uit die bedryf duidelik: jag is ’n voorreg wat met nederigheid benader moet word.

Met die nuwe seisoen op hande, word jagters aangemoedig om hulself deeglik voor te berei, verantwoordelik op te tree en altyd die welsyn van die dier en die integriteit van die jagpraktyk eerste te stel. (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Wat jagters oor BKS moet weet

Veiligheidswenke vir die jagseisoen

Hoekom jag ons – hier is sommige redes