Ek is bevoorreg om ’n reusestudeerkamer te hê. Ek sit vanaand en kyk na die goed wat ek hier om my het wat oor die jare versamel is. Ons almal doen dit seker maar tot ’n mindere of meerdere mate. Alles goed wat vir my van waarde is. Behalwe die gebruiklike foto’s van geliefdes, is daar ook ’n klompie versamelstukkies oor my vliegervarings oor die jare.
My gunstelinge is die groot skilderye van olifante op die Oos-Afrikaanse savanna en die gemonteerde buffelkop wat bo die kaggel hang. Dit was ’n ou pikswart bul wat ek saam met Ma-rius en my seun Eben gejag het by Chirundi op die Zambezirivier se vloedvlaktes jare gelede. Dit was die eerste en enigste buffel wat ek ooit met my klassieke dubbel gejag het – ’n William Douglas & Son 470 NE. Ek onthou dit soos gister.
Daar is die houttarentale en die leeuskedel met ’n gebreekte slagtand van ’n leeumannetjie wat die einde van sy lewe bereik het. Die ouman is uit die trop geskop deur ’n jonger mannetjie. Hy kon nie meer alleen jag nie en het begin om die plaaslike inwoners se beeste te vang langs die Sabierivier waar die rivier breed en plat sy pad vind see toe. Daar is ook die pragtige wit vlakvarkskedel met sulke sierlike boogtande wat ek in Mosambiek in ons jagarea gejag het. Die arme vark was ook hopeloos verby sy beste en brandmaer, ten spyte van ’n oorvloed kos in die omgewing. Langs die kaggel staan ’n trotse rooiduiker-volmontering wat José ingeroep het in die digte Miombobos op die rand van die vloedvlakte. Hy was baie goed daarmee en het selfs eenkeer ’n luiperd laat inkom om te kom kyk wat aangaan.
My liefde vir wilde diere kom al van kleintyd af en is aangehelp met gereelde wildtuinvakansies. My pa was lief vir die natuur. Hy was nie ’n jagter nie, maar het niks daarteen gehad nie. Hy het ander dinge gehad wat hom besig gehou het.
Hy was natuurlik – soos ons almal – baie lief vir ’n lekker stukkie droë wildsbiltong en droëwors!
Later was ek bevoorreg genoeg en kon ek my eie herinneringe versamel in die verskillende jagvelde oraloor. Daar is baie, vol nostalgie en so sterk, jy onthou die fynste detail. Die baie kunswerke op my studeerkamermure getuig seker deels daarvan.
So waarom word diere gejag? Daar is ’n paar redes.
Eienaarskap van wilde diere het maar eers in die later deel van die vorige eeu gestalte gekry, en onmiddellik het die waarde daarvan begin toeneem en het toegespande wildplase oral ’n werklikheid geword.
Op wildplase meng ons vanselfsprekend maar in met die natuur, primêr omdat ons dit met hoë heinings toespan en slegs die grootste bewaringsareas groot roofdiere mag – en wil – hê.
Dit beteken dat die normale rondtrek van wild nie meer plaasvind nie en sonder roofdiere neig getalle om die drakrag van die veld baie vinnig te oorskry. Die habitat verklein en die mens moet inmeng om die balans te handhaaf. Daarom moet ons aanhou inmeng om die siklus te voltooi en moet wild noodwendig geoes word, hoofsaaklik deur jagters.
Wildplase kos baie geld om in stand te hou en die jaginkomste is noodsaaklik. Daar is doemprofete wat oë rol as hulle die woorde “jag” en “na-tuurbewaring” in een sin saam sien, veral as daar uitgewys word dat die twee begrippe eintlik sterk met mekaar verband hou. Jag is vandag een van die belangrikste beginsels vir die effektiewe bewaring van die natuur, veral op jagplase.
Jagters geniet dit om in die natuur te wees. Hulle geniet die sa-mesyn met vriende en die opwinding van die agtervolging van die dier. Hulle geniet dit om wild te sien en om langs ’n kampvuur te kuier en na die stories wat daar vertel word, te luister.
Jag is allermins net die doodskiet van diere en die mense wat dit nie verstaan nie, kan of wil eenvoudig nie. Jagters moet nooit toelaat dat iemand hulle daaroor laat skuldig voel nie.
Die winter is hier en die jagseisoen trek nou weg. Dit is tye van opwinding. Ek dink skie-lik aan die yskoue sonsopkomste langs die water terwyl ons wag vir die hordes kolganse en wilde makoue om te begin vlieg op die menigte voëljagte waar-op ek oral oor Suidelike Afrika was.
Dit is mooi herinne-ringe en baie kosbaar vir my. (Deur Johan Strasheim)
Hoekom jag ons – hier is sommige redes
Wat is mooier as ’n troppie pragtige jong Swartwitpensbulle op die grasryke Zambezi-vloedvlakte? Foto verskaf