Die lewensaar van Oudtshoorn noem baie dié straat – ’n uitdrukking wat mens met ander oë na Voortrekkerweg laat kyk.
Voortrekkerweg spog met ’n uiteenlopende verskeidenheid besighede, ou en nuwe geboue, woonstelle en groot huise. Dit is die straat met besigheidspersele, vulstasies, supermarkte, en selfs Oudtshoorn se inkopiesentrum, die Queen’s Mall.
Verskeie van die permanente kunswerke wat die afgelope paar jaar deur Absa en die KNNK in die dorp geïnstalleer is as deel van die Maakit Mooi-projek is in dié straat – geleë tussen die De Jager Sportstadion en Baron van Reedestraat.
Voortrekkerweg is die straat waarmee besoekers Oudtshoorn vanuit die ooste- en die westekant binnery.
Ná die oorspronklike uitmeting van Oudtshoorn in 1847 is die straat Markstraat genoem omdat daar beplan is om ’n markplein op die kruising met Langenhoven te vestig. Dié markplein is egter baie min gebruik.
Die straat is in 1938, met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek van Markstraat tot Voortrekkerweg herdoop. (Deur Angelique Erasmus)
Fantasiese Voortrekkerweg
Ook deel van Voortrekkerweg se geskiedenis is die ou (groen) pawiljoen by die Rec (Oudtshoorn Sportgrond). Dit is in 1894 opgerig as deel van die Recreation Grounds Company, vandaar die naam Rec. Foto: Met dank aan die CP Nel Museum