Veiligheidswenke vir die jagseisoen

Foto: Jong HJ Kruger by sy eerste springbok, hy is volgens tradisie gedoop. Foto verskaf

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat die manne die bakkie volpak met “cooler”-bokse, jaggewere, ammunisie en “camo”-baadjies en uitskiet veld toe om bietjie te gaan jag. Maar is hulle bewus van hoe veiligheid ’n groot rol speel in ’n suksesvolle jagnaweek?

“Pasop, die duiwel laai ’n geweer” is sekerlik ’n gesegde wat baie pa’s al vir hul seuns, en selfs dogters geleer het wanneer dit kom by jag, maar mense word grootgemaak met die idee dat vuurwapens die skuldige party is wanneer daar ’n skiet- ongeluk plaasvind.

Vuurwapenveiligheid in die algemeen behels dat mens prakties blootgestel moet word aan die werking van ’n vuurwapen. Hoe werk dit, watter kalibers is beskikbaar, waar is die tromp en hoe hou mens dit vas.

Kortliks, dit is gevaarlik as ouers kinders te vroeg aan gewere blootstel, veral as dit ’n groot kaliber is wat “skop”. Begin op ’n vroeë ouderdom met ’n windbuks, dan ’n .22, daarna ’n klein kaliber soos ’n 222 of 223 – ’n knaldemper help regtig baie. Hierna, as die kind gewoond is hieraan en die werking van die geweer verstaan, kan die groter kalibers soos ’n 303, 308 of 30‐06, aan hulle bekendgestel word. Dit geld natuurlik ook vir grootmense wat nuut is in die jagwêreld.

Jong kinders en selfs volwassenes wat nog nooit aan vuurwapens blootgestel is nie verstaan moeilik die konsep rondom veiligheid en trompbewustheid, maar hier speel die ouers of selfs ’n opgeleide en geregistreerde instrukteur ’n belangrike rol. Almal het nie toegang tot so baie verskillende kalibers nie, maar dit is altyd beter om eerder te wag as om te vroeg te begin.

Dit bring ook die verantwoordelikheid van die wettige vuurwapen-eienaar in die kollig. ’n Vuurwapen is ontwerp slegs met een doelwit: om dit wat in die visier is te tref en te dood. Hetsy dit nou ’n dier of ’n mens is.

Daarom is vuur­wapeneienaarskap ’n bitter groot verantwoordelikheid, want die natuur is onder die mens se beheer om te bestuur, en daardeur het die sport van jag ontstaan as ’n metode om wild te bestuur en te benut.

Kortliks ’n paar veiligheidswenke vir as jy in die veld is en vir elke geleentheid waar jy jouself bevind met ’n vuurwapen in jou hand:

  • Wys altyd die tromp van ’n geweer in ’n veilige rigting weg van mense af, dat indien daar per ongeluk ’n skoot sou afgaan dat die rigting veilig is. Jagkalibers maak groot wonde wat selde oorleef word, veral as jy verafgeleë is. Maak seker waar die naaste dokter is, kry vooraf sy telefoonnommer en maak seker jy weet hoe om bloeding in die veld te stop. Maak seker jy het ’n mediese noodplan!
  • Hou altyd jou vinger weg van die sneller totdat jy gereed is om te vuur. Beweeg slegs jou snellervinger na die sneller sodra jy dit wat jy wil skiet in die visier het.
  • Hanteer alle vuurwapens asof hulle gelaai is totdat jy self bevestig het hulle is ontlaai en veilig. Die definisie van ontlaai is dat die geweer en die ammunisie van mekaar geskei is. Magasyne is verwyder en die rondtes/patrone is uit die geweer se interne magasyn verwyder. Maak die slot oop, en hou dit oop tussen mense, agter op ’n bakkie of selfs al plaas jy dit in jou drasak. Moenie skaam wees om dit van iemand te verwag nie. As jy so ’n persoon aanspreek behoort dit nie weer te gebeur nie. Jagreëls is jagreëls!

Weet wat is jou teiken, maak seker, en weet ook wat agter die teiken staan. Hiermee gaan gepaard dat jy weet waar jou koeël tot stilstand gaan kom.

Wanneer jy die geweer veilig maak, inspekteer die magasyn sodat niks binne die geweer is nie, inspekteer die kamer fisiek, en dan druk jy die sneller droog terwyl die tromp in ’n veilige rigting wys.

“Droog” verwys na die aksie om die sneller te druk sodat die slagpen op ’n leë kamer slaan, met ander woorde sonder ’n koeël in die vuurwapen.

Dit maak ’n klank wat mens gerusstel.

Om ’n veiligheidsaksie uit te voer en ’n lewe te spaar is goedkoper as om ’n stukkende slagpen te vervang.

Die ou geloof dat ’n droë skoot die geweer beskadig, is oumensstories. Dit gebeur selde. Dit laat mense veilig voel om die droë skoot te hoor!

Vinger weg van die sneller is ’n algemene bykomende veiligheidsmaatreël, indien nie die belangrikste nie. Almal verstaan die konsep.

Wanneer jy die geweer hanteer, oorhan-dig, veilig maak, laai of ontlaai, moet jou vinger op ’n ander plek wees as naby die sneller.

Maak ’n vuurwapen veilig terwyl jy dit gebruik. Wys die tromp in ’n veilige rigting, en neem kennis dat voor jou in die grond nie ’n veilige rigting is nie.

As ’n skoot afgaan, is daar klippe en skrapnel en almal dra nie brille in die veld nie.
Om ’n bok te skiet wat op die horison staan, is onveilig!

Die koeël verlaat die bok by die uitgangswond, en dit kan nog tot sover as 5 km trek. Ter afsluiting: kamoefleerklere lyk “cool”.

Dit is tegnies die enigste voordeel. Dit wat tans op die mark is, is natuurlik warm, waterdig, van hoë gehalte en geskik vir jagomstandighede. Daarom is dit, tesame met puik bemarking, gewild vir jagdoeleindes. Maar onthou, die meeste wild sien slegs skakerings van blou.

Laaste maar nie die minste nie, wees verant-­woordelik, en onthou, drank en buskruit meng nie. Ons is die voorbeeld, wat ons vandag doen, gaan die toekoms bepaal.

– Aangepas uit ’n skrywe deur Nico van der Merwe.