Met die jagseisoen op ons hande, word jagters regoor die land nie net aangemoedig om hul toerusting reg te kry nie, maar ook om bewus te wees van streng gesondheidsregulasies, etiese praktyke en hul rol in die voorkoming van siektes soos bek-en-klouseer (BKS).
Die uitbreking van BKS, wat vroeër vanjaar as ’n nasionale ramp verklaar is, plaas bykomende verantwoordelikheid op jagters en grondeienaars.
BKS is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat spleethoewige diere soos beeste, bokke en wild affekteer.
Hoewel dit nie ’n risiko vir mense inhou nie, kan mense die virus onwetend versprei via klere, voertuie en toerusting.
Kenners waarsku dat onbeheerde beweging van diere en jagprodukte die verspreiding van die siekte kan versnel en selfs verdere skade aan ’n reeds kwesbare landbou-ekonomie kan veroorsaak.
In baie provinsies geld reeds streng beheermaatreëls, veral rondom die vervoer van lewende diere en jagprodukte. Jagters wat buite siektebeheergebiede jag, benodig gewoonlik net hul gewone dokumentasie, maar in of naby kwarantyngebiede kan addisionele permitte vereis word.
Daarbenewens geld spesifieke reëls vir die vervoer van karkasse, koppe, velle en horings. In sekere gevalle mag hierdie produkte glad nie sonder toestemming uit ’n gebied verwyder word nie.
Biosekuriteit speel ’n sleutelrol in die bekamping van BKS.
Jagters word aangeraai om:
• hulself vooraf in te lig oor die status van die gebied waar hulle gaan jag
• skoene, toerusting en voertuie deeglik te reinig en ontsmet
• plaaslike reëls en veeartsenykundige riglyne streng na te kom
Selfs klein nalatighede kan bydra tot die verspreiding van die virus, aangesien dit deur kontak met besmette materiaal oorgedra kan word.
Uitbrekings kan ernstige ekonomiese gevolge vir boere hê, met bewegingsbeperkings wat produksie en inkomste direk raak.
Teen hierdie agtergrond word jagters se rol nog belangriker, nie net as deelnemers aan ’n tradisie nie, maar as mede-bewaarders van landbou en biodiversiteit.
Benewens gesondheidsmaatreëls, bly die kernbeginsels van verant-woordelike jag onveranderd:
veilige skietpraktyke, respek vir diere en die verantwoordelike benutting van wild.
Bedryfsorganisasies beklemtoon dat jag nie as ’n blote sport of kompetisie beskou moet word nie, maar as ’n praktyk wat integriteit en selfdissipline vereis.
In ’n tyd waar siektebeheer en volhoubaarheid al hoe belangriker raak, sal jagters se optrede ’n direkte rol speel in die beskerming van beide die bedryf en die breër landbougemeenskap. (MALISSA SPIES)
Lees ook:
Veeboere en regering bots oor BKS-kontrole, hof gee sperdatum
