Bek-en-klouseer (BKS) bly ’n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se landboubedryf, en in die Tuinroete area is die risiko nou ook werklik.
Die hoogs aansteeklike virussiekte, wat gesplete-hoefdiere soos beeste, skape, bokke, varke en sekere wildsbokke affekteer, versprei maklik deur direkte kontak, besmette voertuie, waterbronne en selfs mense wat tussen plase beweeg. Hoewel dit geen gevaar vir mense inhou nie, kan dit verwoestende ekonomiese gevolge hê vir boere en gemeenskappe wat van landbou afhanklik is.
Bek-en-klouseer is nie net beperk tot plaasdiere nie. Sekere wildspesies, veral Afrika-buffels, kan die virus dra sonder om enige sigbare tekens van die siekte te toon. Buffels word erken as natuurlike draers van spesifieke BKS-virusstamme in Suider-Afrika.
Ander wilde diere, soos bokke en vlakvarke, kan ook besmet raak en die virus na vee versprei deur direkte of indirekte kontak.
Na ’n nasionale verklaring deur president Cyril Ramaphosa, wat BKS as ’n nasionale ramp verklaar het, is ’n landwye reaksie geloods om die uitbreiding van die siekte te keer. Hierdie klassifikasie gee regeringsinstansies meer bevoegdhede en hulpbronne om entstowwe te bekom, monitering te verbeter en ondersteuning aan boere te versnel.
In die Wes‑Kaap is daar ’n groot inentingsveldtog van stapel gestuur. “Ons sal oor die volgende paar weke 200 000 dosisse entstof ontvang en ons sal streef om alle hoërisiko‑kuddes te ent. Die provinsie sal ook toestemming versoek om self entstowwe aan te skaf,” sê Alan Winde, premier van die Wes-Kaap.

Die provinsie werk ook daaraan om alle veilingbewegings te beheer en projekte soos ’n 21-punt reaksieplan te implementeer om verdere verspreiding te vertraag. Die 21-punt plan behels bewegingsbeheer, monitering en naspeurbaarheid deur veeartsdienste, protokolle vir kommunikasie en noodplanne, sowel as ontsmetting en monitering van kwarantyngebiede.
Onlangse bevestigde gevalle van BKS, soos die by ’n melkplaas in Mosselbaai, beklemtoon die noodsaaklikheid van streng biosekuriteit en samewerking tussen boere en owerhede.
Teen die agtergrond bly Skimmelkrans Boerdery in George tot dusver vry van enige simptome. Maar, sê direkteur George Kuyler, dit beteken nie daar is rustigheid op die plaas nie.
“Ons het nog geen gevalle nie en daarvoor is ons dankbaar. Maar ons leef elke dag op ‘high alert’. Biosekuriteit en naspeurbaarheid is streng in plek en word voortdurend aangepas soos ons meer leer.”
Die uitbreek kom boonop in ’n tyd waar boere reeds onder druk is. “Die droogte het ons reeds hard getref. Nou koop ons ekstra voer in, versterk immuniteit en verskerp biosekuriteit. Kostes bly styg, maar produksie kan nie net stop nie,” voeg hy by.
Hoe kan die publiek help om die verspreiding van BKS te voorkom?
- Vermy onnodige besoeke aan plase of areas waar vee aangehou word.
- Volg die beginsel van “kom skoon, gaan skoon”.
- Maak skoene en voertuie skoon en ontsmet dit nadat landelike gebiede besoek is.
- Respekteer en eerbiedig plaaslike biosekuriteitsreëls en kennisgewings op plase.
Volgens Kuyler versprei die virus vinnig. “Dit voel soos ’n veldbrand. Jy probeer voorbly, maar daar is tans nie entstof beskikbaar nie. Intussen doen ons alles binne ons beheer, streng beheer oor mense, voertuie en diere.”
Hy wys veral op diere wat op kommunale en munisipale grond loop as ’n groot risiko, aangesien beweging en monitering daar moeiliker beheer kan word.
Skimmelkrans het reeds verlede jaar begin om streng maatreëls in te stel:
- Geen besoekers sonder afspraak nie.
- Ses sanitasie-stasies waar voertuie, skoene en hande ontsmet word.
- Deurlopende opleiding van personeel.
- Geen diere van buite wat toegelaat word nie.
- 28 dae kwarantyn wanneer diere tussen plase verskuif word.
- Verpligte registrasie van alle besoekers en verskaffers.
“Ons mense verstaan hoekom ons dit doen. Almal werk saam. Dit vat net een fout om groot skade te veroorsaak,” sê Kuyler.
Hy beklemtoon dat BKS geen gevaar vir mense inhou nie.
“Verbruikers hoef nie bekommerd te wees oor melk of vleis nie. Die siekte raak gesplete-hoefdiere, nie mense nie.”
Suid-Afrika is ’n netto uitvoerder van suiwel, en plaaslike produsente kan volgens Kuyler aan die land se behoeftes voldoen.
“Ons produseer van die goedkoopste suiwel ter wêreld. Maar as daar paniek ontstaan en invoere toegelaat word, gaan plaaslike pryse val. Dit sal ’n groot terugslag wees vir boere wat reeds onder druk is.”
Volgens Kuyler is die emosionele tol dikwels die swaarste.
“Jy word daagliks gebombardeer met slegte nuus. Baie keer ook vals nuus. Jy raak bang om jou buurman te besoek of selfs net by die koöperasie in te stap. Ons emosionele tassies raak baie swaar.”
Hy meen dringende stappe soos voldoende entstof, beter bewegingsbeheer en groter betrokkenheid van die private sektor is nodig om die situasie te stabiliseer. Aan ander boere sê hy: “Doen wat jy kan binne jou vermoë. Hou moed. Jy is nie alleen nie.”
Aan die breër gemeenskap is sy boodskap eenvoudig: om plaaslik te koop en boere te ondersteun, aangesien bek-en-klouseer geen gevaar vir verbruikers inhou nie, maar wel groot risiko’s vir landbou en werksgeleenthede. (MALISSA SPIES)