Die saak teen vyf verdagtes, insluitend twee van Oudtshoorn en drie van Malawië, wat van besigheidsroof aangekla word, is Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof tot 24 Februarie uitgestel. Die uitstel is veroorsaak omdat die landdros van Beaufort-Wes nie beskikbaar was om die saak by te woon nie.
Die vyf verdagtes, Clinton Bridges (25) en Robert Pinta (30) van Bongolethu, Oudtshoorn, asook Gift Kwa-wanda (35), Patrick Joseph (37) en Robert Nine, almal Malawiese burgers wat in Johannesburg woon, word daarvan beskuldig dat hulle op 18 Januarie 2025 by ’n PEP Stores in Oudtshoorn ingebreek het.
Volgens die klagstaat het hulle ongeveer 150 selfone en twee houers met handsakke gesteel, met ’n geskatte waarde van meer as R200 000.
Die saak het groot aandag getrek weens die omvang van die gesteelde items en die betrokkenheid van buitelandse burgers. Die polisie het die verdagtes kort na die voorval in hegtenis geneem, en die saak word sedertdien geondersoek.
In die distrikslanddroshof is borg-tog aan die verdagtes geweier.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamati, het borgtog teengestaan met die argument dat sommige van die verdagtes reeds vorige veroordelings het en dat sommige nie oor vaste adresse beskik nie, wat die risiko van vlug verhoog.
Hierdie faktore het die hof oortuig om die borgtogversoek af te wys.
Die saak is dus tot 24 Februarie uitgestel om verdere beplanning en hofverrigtinge toe te laat.
Die gemeenskap van Oudtshoorn wag nou op die verdere verloop van die hofverrigtinge in verband met hierdie ernstige beskuldigings van besigheidsroof. (GARNETT WICOMB)
Uit die hof: Vermeende selfoondiewe verskyn weer in hof
