Verskeie skole in die Klein Karoo is die afgelope dae gedwing om tydelik te sluit weens swaar reën, oorstromings en padsluitings wat toegang vir leerders en personeel bemoeilik het, asook vir almal se veiligheid.
Die Hoorn het media-navrae aan verskeie skole gestuur en die volgende antwoorde ontvang voor spertyd van SW Vorster, skoolhoof van Laerskool Laurus, en Carl Snyman, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium. Laerskool Laurus: minimale ontwrigting, vinnige herstel
SW Vorster het gesê dat die skool wel tydelike ontwrigting ervaar het, maar dat akademiese werk stelselmatig ingehaal word.
Volgens hom was die grootste uitdaging die vervoer van leerders tydens swak weerstoestande. “Ons is gelukkig in die posisie om die akademie wat verlore gegaan het weer betyds in te haal,” het hy gesê. Hy het bevestig dat geen skade aan die skool se infrastruktuur aangerig is nie en dat kommunikasie met ouers effektief via WhatsApp-groepe plaasgevind het. Assesserings is nie ernstig geraak nie, aangesien die formele program eers in Junie begin.
“Ons is baie dankbaar dat almal veilig is en dat ons op ons ouers en leerders kan staatmaak tydens sulke tye,” het Vorster bygevoeg. Langenhoven Gimnasium: aanpassings en ondersteuning vir leerders
Carl Snyman het op sy beurt gesê dat die skoolsluitings op kort kennisgewing, logistieke uitdagings veroorsaak het, veral vir leerders op plase en koshuiskinders, asook personeel wat alternatiewe roetes moes gebruik.
Volgens hom is planne reeds in plek om verlore akademiese tyd en werk in te haal. Vakonderwysers het elk die impak geëvalueer en ekstra sessies word aangebied om leerders, insluitend matrikulante, op datum te hou.
Die toetsprogram is effens aangepas, met een toetsdag wat met ’n dag uitgestel is. Verder het die skool bevestig dat daar geen noemenswaardige skade aan infrastruktuur is nie, buiten ’n beskadigde gedeelte van ’n heining.
Snyman het ook gesê dat kommunikasie met ouers en leerders deur verskeie platforms, insluitend WhatsApp, Facebook en die D6 Communicator, volgehou is.
“Die grootste les is die waarde van veerkragtigheid en aanpasbaarheid,” het hy gesê.
Skole steeds afgesny
Intussen bly die situasie steeds uitdagend vir ander skole in die streek wat nog nie weer kon heropen nie weens voortdurende oorstromings, padsluitings en toegangsprobleme.
Onderwysowerhede en skoolbesture hou die situasie dop en werk saam om leerderveiligheid en die voortsetting van die akademiese program te verseker. (ANGELIQUE ERASMUS)
Tydelike sluitings van skole in die Wes-Kaap
Langenhoven Gimnasium se palissade-heining het ook tydens die vloed deurgeloop. Foto: Johann Coetzer