Die Klein Karoo herstel steeds ná die verwoestende weerstoestande wat die streek sedert verlede week getref het. Wat begin het as broodnodige reën, het vinnig in grootskaalse oorstromings, windskade en infrastruktuur vernietiging ontaard wat dorpe, plase, skole en gemeenskappe ontwrig het.
Die eerste groot impak was die vloede wat verlede week Woensdag (6 Mei 2026) groot dele van die Klein Karoo getref het ná dae van aanhoudende reën. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vooraf ernstige waarskuwings uitgereik oor ’n laedruk-kouefront wat gevaarlike toestande oor die Wes-Kaap sou veroorsaak. Kort daarna het damvlakke dramaties begin styg.
Die Kammanassiedam het reeds verlede Woensdag begin oorloop, gevolg deur die Raubenheimerdam en Stompdriftdam wat verlede Donderdag hulle walle oorstroom het. Die enorme volumes water wat deur die rivierstelsels beweeg het, het veroorsaak dat feitlik al die laagwaterbrûe in Oudtshoorn oorstroom het.
Vir ’n tydperk was Voortrekkerweg die enigste oop roete wat Wesbank met Noord en Suid verbind het.
Riviere soos die Olifantsrivier en Grobbelaarsrivier het sterk gevloei en groot dele van omliggende gebiede afgesny.
Gemeenskappe soos Volmoed, Rooiheuwel, Kleynspoort, en Calitzdorp Spa was van die buitewêreld afgesonder nadat paaie oorstroom en onbegaanbaar geraak het. Sommige van hierdie gebiede bly steeds moeilik bereikbaar terwyl herstelwerk aan paaie en infrastruktuur geassesseer en in sommige plekke herstel word.
Verskeie hoof- en grondpaaie in die Klein Karoo moes gesluit word weens vloedskade, modderstortings en gevaarlike toestande. Meiringspoort, Swartbergpas en gedeeltes van die R62 was onder die roetes wat erg geraak is, terwyl rotsstortings ook skade aan die pad na die Kango Grotte veroorsaak het.
Ná die oorstromings het verdere reën en sterk wind die situasie vererger. Bome het op verskeie plekke omgewaai, strukture is beskadig en kragonderbrekings het talle gemeenskappe geraak.
Sommige gebiede sit reeds vir dae sonder elektrisiteit terwyl herstelspanne steeds probeer om toegang tot beskadigde infrastruktuur te kry.
Skole en onderwys ontwrig
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het verskeie skole in die Klein Karoo en omliggende distrikte tydelik gesluit weens gevaarlike weerstoestande, oorstroomde toegangspaaie en veiligheidsrisiko’s vir leerders en personeel.
Baie leerders en onderwysers kon nie skole bereik nie, terwyl sommige skoolterreine ook water- en windskade opgedoen het.
In sekere gebiede is klasse opgeskort of aangepas, terwyl skoolvervoer en voedingskemas ook ernstig ontwrig is.
Lees: Tydelike sluitings van skole in die Wes-Kaap
Reddings-, hulp- en humanitêre ondersteuning
Humanitêre organisasies en nooddienste het regdeur die krisis ’n groot rol gespeel om gemeenskappe te bereik. Gift of the Givers het saam met die Air Mercy Service (AMS) helikopters gebruik om kos, water en komberse na geïsoleerde gebiede te vervoer en inwoners by te staan waar paaie onbegaanbaar was.
Verskeie reddings- en hulp operasies is in Calitzdorp, Calitzdorp Spa, Van Wyksdorp, Die Hel, Meiringspoort en Boplaas uitgevoer. ’n Vrou en pasgebore baba van Calitzdorp is veilig ontruim en vervoer na die hospitaal op 8 Mei. Een persoon is in Meiringspoort oorlede nadat hy vermoedelik verdrink het. Sy identiteit is nie bekend nie.
Volgens die Tuinroete Distriksmunisipaliteit het die man die rivier probeer oorsteek toe hy deur vloedwaters meegesleur is. Die voorval het op Saterdag 9 Mei plaasgevind. Sy liggaam is 11 Mei deur EMS Provinsiale ambulansdienste gevind.
Landbou swaar getref
Die landbousektor is van die ergste getref. Boere regoor die Klein Karoo rapporteer groot verliese nadat landerye verspoel, heinings vernietig en infrastruktuur beskadig is. Groot skade aan lande is reeds aangemeld, terwyl toegangspaaie na plase op baie plekke weggespoel het.
Daar is ook groot verliese aan lewende hawe. Boere meld dat volstruise, beeste en ander diere in die vloede gevrek het of deur stygende water afgesny is. Sommige boere kon vir dae lank nie dele van hul plase bereik nie.
’n Boer wat anoniem met Die Hoorn gepraat het, sê die omvang van die skade kan nog nie ten volle bepaal word nie omdat watervlakke op verskeie plase steeds nie genoegsaam gedaal het nie.
Volgens die boer is daar reeds groot skade aan infrastruktuur soos pompkamers, stoorplekke en werkershuise. Nuut-gevestigde boorde het ook ernstige skade opgedoen nadat dele daarvan oorstroom het. Langtermyn kragonderbrekings eis reeds hul tol, terwyl die grootste uitdaging volgens hom die rompslomp by owerhede en stadige reaksie met betrekking tot paaie en elektrisiteit is.
Nog ’n persoon wat op ’n plaas woon en vetplante verkoop vertel dat sy haar besigheid moes sluit omdat sy nie plante na verkopers kan stuur nie. “Niemand in ’n gesagsposisie kan vir my sê wanneer ons pad, selfs tydelik, herstel gaan word nie, en niemand kan ook sê wanneer ons waterlyn, wat water aan ons area verskaf vanaf Dysselsdorp, herstel gaan word nie,” het sy gesê.
Rampstatus en herstel
Die gebied is intussen amptelik tot ’n nasionale rampgebied verklaar, wat die mobilisering van bykomende hulpbronne en koördinering op nasionale vlak moontlik maak.
Hoewel die reën broodnodige verligting vir damvlakke gebring het, waarsku inwoners en boere dat die finansiële en infrastruktuurimpak van die storms nog lank gevoel gaan word. Ramp-bestuurspanne en noodwerkers bly intussen op verskeie plekke ontplooi terwyl opruimings- en herstelwerk voortgaan. (ANGELIQUE ERASMUS)
Lees ook:
