Ernstige weerstoestande as nasionale ramp geklassifiseer

Die onlangse swaar reën, oorstromings en stormweer wat verskeie dele van Suid-Afrika, insluitend die Wes-Kaap, getref het, is amptelik as ’n nasionale ramp geklassifiseer.

Die klassifikasie is op Vrydag 9 Mei deur die hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum, dr. Bongani Elias Sithole, aangekondig.

Die besluit volg op wydverspreide swaar reën, oorstromings, donderstorms, skadelike winde en sneeu wat sedert 4 Mei dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga getref het.

Die klassifikasie beteken nie outomaties dat nuwe fondse onmiddellik beskikbaar is nie, maar dit maak voorsiening vir ’n meer gekoördineerde nasionale reaksie en kan die herprioritisering van bestaande begrotings vergemaklik.

Dit sal die regering in staat stel om samewerking tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede te versterk en die nodige hulpbronne vinniger beskikbaar te stel vir nood en herstelwerk.

Die Wes-Kaapse Regering het die besluit verwelkom en gesê dit sal meer doeltreffende begrotingstoewysings en beter samewerking tussen regeringsvlakke en departemente moontlik maak om die skade na die storm aan te spreek.

In die Wes-Kaap het talle gebiede, insluitend dele van die Klein Karoo en Tuinroete, die afgelope week swaar reën en vloedskade beleef. Paaie is beskadig, gemeenskappe is van die buitewêreld afgesny en verskeie inwoners moes ontruim word.

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, raadslid Mziwoxolo Zoe Tyatya, het intussen sy dank uitgespreek teenoor nood- en reddingsdienste, boere, besighede, kerke, vrywilligers en inwoners wat gehelp het om gemeenskappe tydens die stormtoestande by te staan.

“Die samehorigheid en bereidwilligheid om hulp te verleen, het ’n betekenisvolle verskil gemaak in die lewens van baie inwoners,” het Tyatya gesê.

Hy het ook sy medelye uitgespreek met inwoners en boere wat skade aan huise, infrastruktuur en vee gely het.

Die Wes-Kaapse Regering het inwoners aangeraai om amptelike kommunikasiekanale dop te hou vir die nuutste inligting, onnodige reis tydens gure weer te vermy, versigtig te wees naby riviere en laagwaterbrûe, en los voorwerpe te beveilig in afwagting op sterk winde.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen gewaarsku dat koue en nat toestande in dele van die land kan voortduur, met sterk tot skadelike winde wat in sommige gebiede verwag word. Inwoners word aangeraai om weerwaarskuwings dop te hou en die nodige veiligheidsmaatreëls te tref.

Inwoners kan ook Die Hoorn se Facebook-blad dophou vir die nuutste plaaslike nuus en opdaterings.

Lees ook:

Reën, water in oorvloed

Brandstofpryse styg skerp, regering erken berekeningsfout met dieselprys

Date set for 2026 municipal elections