Reën, water in oorvloed

Van der Rietstraat, Woensdagoggend, was een van die eerste strate in Oudtshoorn om te oorstroom. Verskeie strate met laagwaterbruggies is as voorsorgmaatreël reeds vroeg gesluit om die veiligheid van die publiek en motoriste te verseker. Foto: Angelique Erasmus

Verskeie weerwaarskuwings is deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens op Maandag 4 Mei vir groot dele van die Wes-Kaap uitgereik. Oudtshoorn en die omliggende areas in die Klein Karoo het vlak 8 waarskuwings gekry.

Hierdie waarskuwing is vir ontwrigtende reëntoestande uitgereik en sluit tussen 100-200 mm reën insluit. As gevolg van die reën kan dit lei tot paaie en nedersettings wat oorstroom, modder- en rots- stortings en gronderosie.

Vinnig vloeiende stroompies en riviere kan lei tot lewensgevaar, met verskeie persone wat vir lang tye afgesny word van dorpe.

Persone wat ontruim moet word uit gevaarlike toestande en tydelik verplaas word na gemeenskapsentrums, is ook ’n moontlikheid.

Swaar reën het reeds Dinsdag begin uitsak, en regdeur die nag aangehou. Verskeie grondpaaie wat reeds Dinsdag glad en modderig was, is Woensdag amper onbegaanbaar vir gewone voertuie. Selfs bakkies het plek-plek gegly.

Verskeie paaie in Oudtshoorn is gesluit, waar die Grobbelaarsrivier die laagwaterbruggies begin oorstroom. In Schoemanshoek is verskeie driffies reeds toe onder water vanaf vroeg Woensdag-oggend.

Beide die Swartbergpas tussen Prins Albert en Oudtshoorn, asook Meiringspoort tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn, is Woensdagoggend gesluit weens gevaarlike toestande en oorstromings. Motoriste is gewaarsku om nie deur water oor paaie te probeer ry nie en om alle padsluitings te gehoorsaam.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het Dinsdagmiddag sowat 14:00 bevestig dat openbare skole in sekere dele van George, Knysna en Oudtshoorn, Woensdag 6 Mei en Donderdag 7 Mei ge-sluit word weens die ernstige weerwaarskuwings.

Die sluitings raak skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrik, insluitend talle skole in die Oudts-hoorn-kringgebiede. Meer as 120 skole in die breër streek word deur die sluitings geraak. Verskeie besighede het ook vir die dag gesluit, en so hul werknemers se veiligheid verseker.

Die Cango Wildlife Ranch het ook as voorsorgmaatreël Woensdagoggend hul diere geskuif na hoërliggende areas vir hulle veiligheid, na die vorige vloed waar ’n keerwal gebreek het en die dierepark onder water was.

Die muur is intussen herstel. Foto’s en video’s is op verskeie WhatsApp-groepe en op sosiale mediagroepe gedeel. Party inwoners op plase is vasgekeer met driffies wat oorspoel. Daar is ook asemrowende video’s en foto’s gedeel waar watervalle uit die Swartberg stroom.

Teen druktyd het reën steeds oor groot dele van die Klein Karoo uitgesak, met die hoop dat die neerslae broodnodige verligting vir damvlakke en landbou sal bring, maar terselfdertyd moet inwo-ners waaksaam bly vir moontlike oorstromings en verdere padsluitings.

SAPD Provinsiale Soek- en Reddingspan is vir drie dae hier ontplooi om noodsituasies te help en het gespesialiseerde toerusting en kundige personeel, insluitend skippers en duikers. Lede van die publiek wat hulp benodig, word versoek om direk kontak te maak met Kaptein Lewis of die Gesamentlike

Operasionele Sentrum (JOC) by die volgende nommers:
Kaptein Lewis – SAPD: 082 800 5038. JOC Kantoor: 044 203 7806 / 7807 / 7808. (ANGELIQUE ERASMUS)

Skermgreep van die Grootrivier, tussen De Rust en Meiringspoort, wat Woensdag reeds sterk gevloei het. Foto verskaf
Verskeie watervalle wat sterk loop was in die Swartberg sigbaar. Foto verskaf