Die wedloop om Groter Oudtshoorn se burgemeestersketting begin vorm aanneem, met vier politieke partye en plaaslike groeperings wat reeds hul burgemeesterskandidate vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing bekendgemaak het.
Die bevestigde kandidate is Henricus “Rickey G” Gysman vir die DA, Johan Allers vir die Vryheidsfront Plus, Leon Campher vir Advieskantoor en Suzane Jansen vir die Patriotic Alliance.
Die ANC het intussen aan Die Hoorn bevestig dat sy proses om burgemeesterskandidate vir plaaslike munisipaliteite te identifiseer, nog nie afgehandel is nie.
Die Oudtshoorn-plaaslike munisipaliteit sluit Oudtshoorn, Dysselsdorp, De Rust en verskeie omliggende landelike gemeenskappe in.

DA kies Rickey Gysman
Die DA het Henricus “Rickey G” Gysman op 30 Maart as sy burgemeesterskandidaat vir Groter Oudtshoorn bekendgemaak.
Gysman is ’n bekende plaaslike radio-aanbieder en gemeenskapsfiguur wat reeds ongeveer 15 jaar lank in die radiobedryf en gemeenskap aktief is.
Die party het hom tydens sy bekendstelling beskryf as iemand wat diep in die plaaslike gemeenskap gewortel is en bereid is om hom oor dienslewering, gemeenskapskwessies en die behoeftes van inwoners uit te spreek.

VF Plus stel Johan Allers aan
Die VF Plus het die voormalige uitvoerende burgemeester Johan Allers op Donderdag, 9 Julie, as sy burgemeesterskandidaat vir Groter Oudtshoorn bekendgemaak.
Die aankondiging is tydens ’n besoek aan Oudtshoorn deur die party se nasionale leier, dr. Corné Mulder, gedoen.
Danie Acker, ’n VF Plus-verteenwoordiger in die Wes-Kaap, was ook tydens die besoek teenwoordig.
Allers is geen vreemdeling in Oudtshoorn se plaaslike politiek nie. Hy het reeds voorheen as uitvoerende burgemeester gedien en is steeds ’n VF Plus-raadslid.
Sy benoeming beteken dat die party ’n kandidaat met vorige ervaring in die burgemeestersamp en eerstehandse kennis van die werking van die munisipaliteit in die verkiesingstryd plaas.

Advieskantoor bevestig Leon Campher
Advieskantoor het Leon Campher op Donderdag, 16 Julie, amptelik as sy burgemeesterskandidaat vir Groter Oudtshoorn verklaar.
Campher dien tans as Advieskantoor se verteenwoordiger in die Oudtshoorn-munisipale raad en is reeds by plaaslike gemeenskaps- en munisipale aangeleenthede betrokke.
Sy kandidatuur beteken dat ’n plaaslike politieke groepering ook die stryd om die burgemeestersamp betree, saam met die groter nasionale partye.

PA kies Suzane Jansen
Die Patriotic Alliance het Suzane Jansen as sy burgemeesterskandidaat vir Groter Oudtshoorn aan Die Hoorn bevestig.
Jansen is ’n bekende figuur in Oudtshoorn se plaaslike politiek en dien tans as die speaker van die Oudtshoorn-munisipale raad.
Die PA het die afgelope tyd sy teenwoordigheid in die munisipale gebied uitgebrei en sal na verwagting poog om op sy huidige steunbasis voort te bou.
Jansen se ervaring as raadslid en speaker plaas haar onder die kandidate wat reeds ’n deeglike kennis het van die werking van die raad en die uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar.
ANC se proses nog nie afgehandel nie
Die ANC het nog nie ’n burgemeesterskandidaat vir Groter Oudtshoorn bekendgemaak nie.
Moyisi Magalela, die ANC se Victor Molosi-streekwoordvoerder, het in antwoord op ’n navraag van Die Hoorn gesê die party het nog nie sy proses afgehandel om burgemeesterskandidate vir B-munisipaliteite te identifiseer nie.
Mziwoxolo “Zoe” Tyatya dien tans as die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, maar dit beteken nie outomaties dat hy weer as die ANC se kandidaat aangewys sal word nie.
Die party se kandidaat sal eers bekend wees nadat interne benoemings- en keuringsproses afgehandel is.
Ander partye nog stil
Teen druktyd kon geen bevestigde burgemeesterskandidate vir ICOSA, GOOD, Suid-Kaap Saamstaan, ACDP of OGI vasgestel word nie.
Raad verkies uiteindelik burgemeester
Kiesers stem nie tydens die plaaslike regeringsverkiesing regstreeks vir ’n burgemeester nie.
Inwoners stem vir wykskandidate en politieke partye. Nadat die nuwe munisipale raad saamgestel is, verkies die raadslede die uitvoerende burgemeester.
Indien geen party ’n volstrekte meerderheid in die raad behaal nie, kan koalisieonderhandelinge en die steun van kleiner partye uiteindelik bepaal wie die burgemeestersketting dra.
Oudtshoorn se politieke geskiedenis het reeds gewys dat kleiner partye en plaaslike groeperings ’n deurslaggewende rol kan speel wanneer die burgemeester, speaker en ander politieke ampsdraers verkies word.
Be the first to comment on "Wie mik na Oudtshoorn se burgemeestersketting?"