Egpaar vertel van dae vasgekeer in Gamkaskloof

Danie en Desiré de Wet herenig met hul Suzuki Jimny, “Mathilda”, nadat hulle byna twee maande na hul ontruiming uit Die Hel na die vallei kon terugkeer om die voertuig te gaan haal.

By die afdraai na Gamkaskloof, beter bekend as Die Hel, het ’n reënboog Danie en Desiré de Wet van L’Agulhas verwelkom. Min het hulle geweet dat dieselfde vallei hulle twee dae later van die buitewêreld sou afsny en dat hulle uiteindelik per helikopter ontruim sou word.

Wat as ’n rustige wegbreek begin het, het in ’n onvergeetlike avontuur ontaard. Tog sê die egpaar die ervaring het hulle geensins afgeskrik nie – inteendeel, hulle wil weer na Die Hel terugkeer.

“Ons wou net bietjie wegkom om stilte en vrede te ervaar waar geen buitewêreld-kontak is nie,” vertel hulle oor die reis wat reeds maande tevore beplan is.

Hulle het op 5 Mei by Fonteinplaas aangekom en sou oorspronklik drie nagte in Die Hel deurbring.

Die weer het egter vinnig versleg. Teen 6 Mei het swaar reën en sterk rukwinde die vallei getref, terwyl riviere begin swel het.

“Ons het Woensdag begin agterkom hier is nou moeilikheid toe ons net water en riviere sien wat sterk loop rondom ons. Dit het die heeldag sterk gereën en daar was verskriklike rukwinde. Ons kon glad nie uit die huis beweeg nie. Water het al hoe hoër begin styg.

“Ons het rustig gesit en koffie drink toe ’n rukwind die dakplate van die Kliphuis begin ruk en dit laat klink het of die dak wil afwaai. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons die groot boom voor die Kliphuis is omgeruk, terwyl die riviere net hoër en hoër raak.”



Die volgende dag is die egpaar meegedeel dat die paaie weggespoel is en dat dit nie gou herstel sou kon word nie. Altesaam 11 gaste was saam met die Joubert-gesin en hul werkers in Die Hel vasgekeer.

Hoewel hulle van die buitewêreld afgesonder was, sê Danie en Desiré daar was nooit paniek onder die gaste nie. Die Kliphuis was goed toegerus met sonkrag, gas, vuurmaakhout, kos en water, terwyl die Joubert-gesin daagliks seker gemaak het almal is veilig.

“Die Jouberts het elke dag kom hoor of ons nog reg is en of ons kos nodig het. Ons het nooit in gevaar gevoel terwyl ons vasgekeer was nie.”

Danie en Desiré sê die ondersteuning van Pieter en Marinette Joubert, hul kinders Beon en Mia, en die werkers van Fonteinplaas was deurgaans van onskatbare waarde. Hulle sê die span het nie net daagliks na die gaste omgesien nie, maar ook onverpoos gewerk om die beskadigde pad weer rybaar te maak.

Toe die Air Mercy Service (AMS)-helikopter op 9 Mei gestuur is om die vasgekeerde gaste te ontruim, moes hulle inderhaas besluit wat saamgaan en wat agterbly.

“Toe begin die gejaag, wat vat jy en wat los jy, want elkeen kan net een tas vat.”

Dit het ook beteken dat hul ses maande oue Suzuki Jimny, “Mathilda”, in Die Hel moes agterbly.

“Dit was bitter moeilik en hartseer omdat ons toe net ses maande ons voertuig gehad het en sy moes agterbly.

“Ons wou aanvanklik bly totdat ons kon uitry, maar Pieter Joubert het dadelik gesê dit kan tot ’n maand vat voordat die pad reg is en ons eerder moet gaan, want die helikopter doen net die een ontruimingspoging om die gaste uit te kry.”

Hulle moes oor ’n rivier stap na die geïmproviseerde landingsplek, terwyl sewe motorfietsryers reeds die landingsterrein voorberei het. Daar het hulle ook vir Larry Kretzschmar en Wendy Thomson ontmoet, wie se voertuig vroeër deur vloedwater van die pad afgestoot is.

Na hul redding het Kretzschmar en Thomson hul opregte dank uitgespreek teenoor die avontuurmotor- fietsryers wat hulle uit hul voertuig gered het, asook Pieter en Marinette Joubert, wat kos, water en gereelde terugvoer aan hul families verskaf het. Hulle het ook Kevin van Blerk bedank vir sy rol in die koördinering van die ontruiming, Danie en Desiré de Wet vir hul humorsin wat die spanning help verlig het, en die AMS-span vir die veilige ontruiming.

Danie en Desiré het ook hul dank uitgespreek teenoor die AMS-span, wat volgens hulle die reddings- operasie met groot professionaliteit hanteer het.

“Die personeel van AMS was uitstekend om alles vinnig uit te sorteer,” vertel hulle. “Francois en Tevin was absoluut fantasties en het jou dadelik op jou gemak laat voel.”

Desiré (links) en Danie de Wet kort ná hul veilige aankoms in Oudtshoorn nadat hulle per AMS-helikopter uit Gamkaskloof ontruim is.

Ná weke van wagtyd, waartydens verdere storms die herstelwerk aan die pad telkens teruggesit het, kon hulle op 25 Junie uiteindelik terugkeer om Mathilda te gaan haal.

“Pieter en sy 14-jarige seun Beon en werkers Willie, Kentario, Triston en Ivan het volstoom begin om pad te bou. Hulle het rugbreekwerk gedoen met die hand.”

Danksy hul volgehoue harde werk was die pad uiteindelik weer rybaar, en die voertuig het ongedeerd op hulle gewag.

“Ons het geen skade aan die voertuig gehad nie danksy Pieter en Marinette wat ooggehou het oor Mathilda. Sy was vuil, maar in goeie toestand. Met ons uitrit het Mathilda haar soos ’n ‘Queen’ gedra en dit sommer lag-lag gedoen.”

Buiten die Joubert-gesin en AMS het Danie en Desiré ook hul opregte waardering uitgespreek teenoor vriende en ondersteuners, onder andere Nelmarie Neethling, Kevin van Blerk, André en Elmien Theron, Kobus Lategan en Stefan Rood, wat elkeen ’n rol gespeel het om hul veilige ontruiming en uiteindelike hereniging met Mathilda moontlik te maak.

Hoewel die ervaring een was wat hulle nooit sal vergeet nie, sê die egpaar dit het hul liefde vir afgeleë bestemmings net versterk.

“Ons sou niks anders gedoen het of doen nie. Ons hou van afgeleë plekke waar mens weer alles ‘reset’ en rustigheid kry.

“Moenie bang wees vir die tipe gebeure nie. Dit was en is nooit beplan nie, maar as jy luister na mense wat weet wat om in sulke omstandighede te doen, sal jy altyd veilig wees. Mense moet absoluut Die Hel op hulle ‘bucket list’ sit.” (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Deur Die Hel en hoogwater

Poort kan teen Desember tydelik heropen

Be the first to comment on "Egpaar vertel van dae vasgekeer in Gamkaskloof"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*