Deur Die Hel en hoogwater

Pieter Joubert, Beon Joubert (14) en werkers Willie, Kentario, Triston en Ivan was deel van die span wat ná die verwoestende Mei-storms onverpoos gewerk het om die enigste toegangspad na Gamkaskloof (Die Hel) weer begaanbaar te maak. Foto verskaf.

Toe die verwoestende storms van Mei die enigste toegangspad na Gamkaskloof, beter bekend as Die Hel, op verskeie plekke vernietig het, het Pieter Joubert en sy span nie gewag vir hulp nie. Hulle het die volgende oggend eenvoudig hul grawe, kruiwaens en voorhamers opgetel en begin om die pad, meter vir meter, weer oop te maak.

“Ons was verbaas om te sien hoe hoog en sterk die riviere loop. Ons het onmiddellik besef daar is nou groot moeilikheid, want ons ken ons plek en was verseker dat die pad onbegaanbaar sou wees,” vertel Pieter en Marinette Joubert.

Vir meer as ’n maand het Joubert, sy seun Beon (14) en werkers Willie, Kentario, Triston en Ivan onder uiters moeilike omstandighede gewerk.

Grondstortings, uitgespoelde drifte en enorme rotse moes met die hand verwyder word, terwyl koue, reën en verdere storms die herstelwerk telkens teruggesit het.

Teen 13 Mei het die span reeds ’n belangrike mylpaal bereik toe die pad vanaf Fontein Gasteplaas, die Joubert-gesin se gasteplaas in Gamkaskloof, tot halfpad teen Elands Pas oopgemaak is. Die volgende dag is ’n enorme grond- en klipstorting, wat die pad heeltemal versper het, ook met die hand verwyder.

Hoewel die taak soms byna onmoontlik gelyk het, het die span nie moed opgegee nie. “Ons het met tye gedink dat die pad se herstel ’n onbegonne taak sou wees. Ons kry swaar ondersteuning van diegene wat eintlik verantwoordelik is vir die herstel van die pad. Ons het geweet ’n groot en dalk onmoontlike taak lê voor,” sê Pieter.

Volgens Marinette was daar egter geen ander keuse as om aan te hou nie.

“Vir die behoud van ons besigheid en inkomste het ons geweet ons moet so gou as moontlik die pad herstel sodat besoekers weer na ons vallei kan ry. Ons het ’n goeie verhouding met ons werkers en hulle werk saam met ons om Fonteinplaas ’n sukses te maak,” vertel sy.

Teen 16 Mei het dit duidelik geword dat die span veel meer as net ’n pad herstel. Hulle het saam ’n uitdaging aangepak wat hulle nog nader aan mekaar gebring het.

Hoewel Willie, Kentario, Triston en Ivan nie almal permanent in Gamkaskloof woon nie, sê Pieter hul toewyding het die familie deur die moeilikste dae gedra.

“Ons werkers se toewyding het ons moed gegee om elke dag weer uit te gaan en nog harder te werk om die pad te verbeter. Dit het ons as familie laat besef dat ons die regte span het wat saam met ons suksesvol wil wees.

“Daar is grappe gemaak en almal kom baie goed oor die weg. Die band wat ons met ons werkers het, is anders – hulle word deel van die familie. Elke dag het sy eie komiese oomblikke gehad en dit bly ons vir altyd by.”

’n Spesiale woord van waardering gaan ook aan Beon, Pieter en Marinette se 14-jarige seun, wat elke dag sonder klagte saam met die volwassenes gewerk, kruiwaens vol klippe gestoot en swaar rotse help verskuif het.

“Ons as ouers is baie trots op Beon se lus vir die lewe. Sy uithouvermoë en sy entoesiasme vir elke nuwe dag is besonders,” sê Marinette. Vir Beon was die ervaring iets wat hom selfvertroue gegee het.

“Om saam met my pa te werk en dinge te doen is baie lekker. Dis vir my goed om te sien wat ek op ’n dag kan vermag en ook om vir myself te bewys dat ek saam met my pa hierdie optog kon aanpak en hom kon help.”

Gamkaskloof was vir langer as ’n maand feitlik van die buitewêreld afgesny. Die Joubert-familie kon geen gaste ontvang nie en het dus geen inkomste verdien nie, terwyl salarisse, diesel, toerusting en ander uitgawes steeds betaal moes word.

Omdat dit gou duidelik geword het dat herstelwerk met die hand alleen nie volhoubaar sou wees nie, is ‘n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om geld in te samel vir ’n TLB (tractor-loader-backhoe).

Die veldtog het wyd steun ontvang, en teen die einde van Mei het die droom werklikheid geword toe die TLB by Fonteinplaas afgelewer is.



“Dit was ’n groot hoogtepunt toe die TLB uiteindelik hier aankom. Dit was ’n onwerklike oomblik,” vertel Pieter.

“Dit help verskriklik baie om die TLB te hê. Daar is minder handearbeid en ons beweeg baie vinniger vorentoe met die herstelwerk. Dit spaar baie dae se werk.”

Hoewel die TLB die herstelwerk aansienlik versnel het, het groot dele van die pad steeds uitgebreide herstelwerk vereis. Teen middel Junie was toegang weer moontlik tot onder meer Fonteinplaas, die Kliphuis en die kampeerterrein, maar die res van die kloof het steeds ernstige skade getoon.

Besoekers soos Danie en Desiré de Wet, wat tydens die storms in Die Hel vasgekeer was, het later die span geloof vir hul “rugbreekwerk” om die pad weer rybaar te maak.

Hoewel die pad tans weer begaanbaar is, sê Pieter daar lê nog baie werk voor voordat dit behoorlik herstel sal wees.

“Baie gate en slote moet nog gevul word. Daar sal grond aangery moet word en mooi beplanning gedoen moet word om die pad reg te herstel. As dit nie reg herstel word nie, gaan die pad maar net weer wegspoel.”

Die herstelwerk het uiteindelik ook die aandag van die Wes-Kaapse regering getrek.

Premier Alan Winde het op 16 Julie saam met ministers Tertuis Simmers en Anton Bredell die gebied besoek, waar Pieter Joubert die omvang van die skade en die dringende behoefte aan ’n volwaardige herstel van die Gamkaskloof-pad verduidelik het.

Vir Pieter en Marinette is Gamkaskloof veel meer as net ’n toerismebestemming.

“Ons is die vyfde geslag op Fonteinplaas in Gamkaskloof, die enigste privaat plasie wat steeds in familiebesit is. Ons kinders, Mia en Beon, is die sesde geslag wat hier sal aangaan. Om hierdie erfenis vir hulle te kan gee is ’n droom vir baie.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel dat so baie mense van die publiek ons wou help en ondersteun het.

Dis ’n bewys dat ons ’n unieke plek het en daarvoor nog meer sal baklei. Dis net so onwerklik dat mense soveel respek het vir ons en ons vallei.

“Ons moet bewaar wat ons nog kan in ons land. Ons erfenis bewaar, ons natuur beskerm en ons geskiedenis koester. Wees passievol oor wat jy doen, staan elke dag op met nuwe moed en wees trots op wie jy is.” (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Egpaar vertel van dae vasgekeer in Gamkaskloof

Poort kan teen Desember tydelik heropen