Gratis vermaak volop by Klein Karoo Klassique

Van links: Antjie Krog en John Theodore, Oudtshoorn Pianis, vorm deel van Klein Karoo Klassique se gratis vertonings. Foto’s verskaf

Feesgangers kan vanjaar, benewens klassieke musiek, ook uitsien na ’n uitgebreide gratis program tydens die 17de Klein Karoo Klassique.

Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn word van Vrydag, 7 Augustus, tot Sondag, 9 Augustus, aangebied.

Twee gratis ontbytkonserte vorm deel van die musiekprogram. Die Oudtshoorn-pianis John Theodore tree Saterdag 8 Augustus om 08:00 in die Banketsaal op, terwyl die Steinway-kunstenaar Charl du Plessis op Sondag 9 Augustus om 08:00 agter die klavier inskuif.

Du Plessis bied ook ná uitgesoekte musiekuitvoerings gratis gesprekke met kunstenaars aan. Dié gesprekke fokus op die musiek, die kunstenaars se inspirasie en hul lewe op die verhoog.

Drie gratis literêre gesprekke word met die ondersteuning van Human & Rousseau en Kwela aangebied. Bonnie Espie gesels op 7 Augustus om 16:00 oor Lifting the Lid. Antjie Krog tree op 8 Augustus om 12:00 in gesprek oor Van man tot man, haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man. Op 9 Augustus om 12:00 gesels Irna van Zyl oor haar misdaadroman Kanniedood.

Die visuele kunsuitstalling, In die toonsoort van lig, kan daagliks gratis in die Banketsaal en Ou Raadsaal besoek word. René Scribante, die kurator, bied op 9 Augustus om 13:00 ’n rondleiding aan. Die uitstalling ondersoek die verhouding tussen kleur, klassieke musiek, komposisie en emosie.

Oudtshoorn ReWOLusie is ook deel van die fees. Feesgangers kan blokkies brei en hekel wat later in komberse vir minderbevoorregte gemeenskappe verwerk sal word. Reeds voltooide komberse sal tydens uitvoerings beskikbaar wees om feesgangers warm te hou.

Jong gehore kan uitsien na Inlei-ding tot die orkes, ’n interaktiewe program vir leerders van graad 4 tot 9 onder leiding van Richard Cock. André van der Merwe bied op Maandag, 10 Augustus, om 08:30 ’n gratis werksessie vir koorleiers aan.

Benewens die gratis aanbod sluit die program agt klassieke musiek-uitvoerings, twee laataandkonserte, wynproeë en Klein Karoo-ervarings in.

Kaartjies en die volledige program is beskikbaar by klassique.co.za, die KKNK-kantoor of by die deur, afhangend van beskikbaarheid.

Be the first to comment on "Gratis vermaak volop by Klein Karoo Klassique"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*