Vier keer in ’n ander rasseboksie geplaas

Sandra Laing, wie se lewensverhaal een van die bekendste voorbeelde van apartheid se rasseklassifikasiestelsel geword het, saam met Glen Snyman en haar man, Johannes Motloung.

Vir die Oudtshoorniet Glen Snyman was sy onlangse ontmoeting met Sandra Laing in Johannesburg veel meer as die ontmoeting met ’n bekende Suid-Afrikaner. Vir hom was dit die geleentheid om die vrou te ontmoet wie se lewensverhaal volgens hom die verwoestende gevolge van rasseklassifikasie soos min ander blootgelê het.

“Ek en Sandra het al baie kere telefonies met mekaar gesels, maar om haar uiteindelik persoonlik te ontmoet, was vir my ’n besondere voorreg. Dit was ’n emosionele en geskiedkundige oomblik. Sandra se lewensverhaal het my nog altyd diep geraak, en dit was bemoedigend om te sien dat dit goed gaan met haar en haar familie,” sê Snyman.

Laing is op 26 November 1955 uit wit Afrikaner-ouers gebore. Hoewel DNS-toetse later bevestig het dat sy wel hul biologiese dogter was, het haar donkerder velkleur en krulhare daartoe gelei dat sy gedurende apartheid verskeie kere deur die staat volgens ras geklassifiseer en herklassifiseer is.

Die besluite het haar skoolloopbaan, gesinslewe en identiteit ingrypend beïnvloed en haar verhaal het internasionale aandag getrek as een van die bekendste voorbeelde van die onreg en teenstrydighede van apartheid se rasseklassifikasiestelsel.

Haar lewensverhaal is later in die bekroonde rolprent Skin uitgebeeld, wat gehelp het om haar verhaal aan ’n internasionale gehoor bekend te stel. Dit word ook vertel in die boek When She Was White: The True Story of a Family Divided by Race.



Snyman, wat betrokke is by People Against Race Classification (PARC), sê Laing se verhaal is waarskynlik een van die duidelikste voorbeelde van die menslike gevolge van rasseklassifikasie in Suid-Afrika.

Hy sê sy is gedurende haar lewe aanvanklik as wit by geboorte geklassifiseer, daarna as swart, later weer as wit en uiteindelik as bruin.

Volgens hom wys haar verhaal hoe rasseklassifikasie nie bloot ’n administratiewe proses is nie, maar een wat ’n persoon se identiteit, waardigheid, gesinslewe en toekoms ingrypend kan beïnvloed en verwoes.

Snyman meen Laing se verhaal dien vandag steeds as ’n waarskuwing teen die gevare daarvan om mense volgens rassekategorieë te klassifiseer.

“Sy het die ineenstorting van die rasse-logika waarop die apartheidsregering sy beleid probeer grond het, blootgelê,” sê hy.
Hy glo die les uit Laing se verhaal bly vandag relevant en voer aan dat ’n regverdige samelewing nie gebou kan word op rassekategorieë waarin mense nie altyd netjies inpas nie.

Snyman sê PARC beoog om deel te neem aan die hofsaak wat Rescue SA Civil Rights Alliance teen die regering aanhangig gemaak het. Volgens hom het Laing haar steun vir die organisasie uitgespreek en gesê sy is bereid om, indien nodig, saam met hulle hof toe te gaan en haar persoonlike getuienis te lewer.

“Ons doel is om op ’n vreedsame en grondwetlike wyse te werk vir ’n Suid-Afrika waarin elke burger as individu erken word en waar verouderde rasseklassifikasie uit ons wetgewing en administratiewe stelsels verwyder word. Ons glo dat die waardigheid en gelykheid van elke persoon die grondslag van ’n ware nie-rassige samelewing behoort te wees,” sê Snyman.

Vir meer inligting oor die werk van PARC, besoek parcsa.co.za. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Vier keer in ’n ander rasseboksie geplaas"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*