’n Hartroerende oomblik het onlangs afgespeel toe Christo Delport, ’n plaaslike inwoner van Oudtshoorn, ’n paar rugbystewels en ’n sportsak aan die belowende jong rugbyspeler Rashan Claassen oorhandig het. Hierdie gebaar is met trots geborg deur George Lawnmowers and Chainsaws (GLC), waar Delport as bestuurder van regeringsleutelrekeninge (Government Key Accounts Manager) werksaam is.
Volgens Delport is dit vir GLC van groot belang om in die toekoms van jongmense en opvoedkundige instellings te belê. “Ons glo daarin om terug te ploeg in die gemeenskap en jong talent te ondersteun,” het hy gesê.
Rashan, wat sy hoërskoolloopbaan by Bridgton Sekondêre Skool in Oudtshoorn begin het, het reeds op ’n jong ouderdom sy merk gemaak op die rugbyveld. Hy is verlede jaar raakgesien deur Hoërskool Witteberg in Bethlehem nadat hy as o. 16-speler tydens die gesogte Grant Khomo-toernooi vir die SWD Arende uitgedraf het. Dit was juis tydens hierdie toernooi waar sy talent die aandag getrek het.
Hy is tans ’n graad 11-leerder by Hoërskool Witteberg in Bethlehem, waar hy in die skoolkoshuis woon, hoewel hy steeds in Oudtshoorn woonagtig is. Hy ontwikkel sy rugby daar verder en speel tans vir die Novavit Griffons. Onlangs het hy ook die geleentheid gekry om vir die Griffons-akademie se o. 18-span in Uitenhage uit te draf – nog ’n bewys van sy groei en potensiaal in die sport.
Delport, wat self in sy jonger dae vir Bridgton RFC rugby gespeel het, het toevallig ’n Griffons-wedstryd bygewoon waar hy Rashan in aksie gesien het. Dit het hom geïnspireer om ’n bydrae te maak tot die jong speler se ontwikkeling.

Be the first to comment on "Plaaslike rugbyspeler ontvang borgskap van GLC"