Huis Thaddeus bied veilige ruimte vir kinders in nood

Huis Thaddeus, die nuutste toevoeging tot die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Oudtshoorn. Foto: Malissa Spies

Die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Oudtshoorn het sy nuwe Huis Thaddeus in gebruik geneem as ’n veilige ruimte waar kinders wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Kindersorg en ander verwysende instansies na die sentrum gebring word, tydelik in ’n veilige omgewing opgevang word.

Die fasiliteit is ingerig om tot 30 kinders op ’n slag om te sien en vorm deel van die sentrum se groeiende netwerk van programme wat daarop gemik is om kwesbare kinders en jongmense te ondersteun.

Volgens die sentrum lê die fokus van Huis Thaddeus op vroeë ingryping en voorkoming, sodat kinders betyds die nodige ondersteuning kan ontvang voordat hul omstandighede verder versleg.

Die sentrum het onlangs ook sy span versterk met die aanstelling van maatskaplike werker Marieta Woudstra.

“Huis Thaddeus gaan oor vroeë ingryping en voorkoming. Ons wil kinders bereik voordat hulle nog dieper in moeilike omstandighede beland. Deur vroeg in te gryp, kan ons ’n groter verskil aan hul toekoms maak,” sê Woudstra.

By Huis Thaddeus word kinders in ’n veilige omgewing opgevang terwyl hul omstandighede beoordeel word en die nodige maatskaplike prosesse gevolg word.

Die daaglikse versorging van die kinders verg egter voortdurende ondersteuning uit die gemeenskap. Woudstra doen daarom ’n beroep op mense om verantwoordelik te skenk.

“Mense dink dikwels hulle moet groot skenkings maak, maar dit is die alledaagse goed wat ons elke dag gebruik wat die grootste verskil maak. Gas, toiletpapier, skoonmaakmiddels en ander basiese benodigdhede help ons om die kinders elke dag te versorg.”

Selfs eenvoudige skenkings soos bordkryt word baie waardeer.

“Bordkryt het sommer een van ons gewilde items geword. Die kinders teken graag, en deur kuns en speel kry hulle die geleentheid om hulself uit te druk op maniere waarvoor hulle nie altyd die woorde het nie.”

Vaardighede bou aan die toekoms

Nog ’n belangrike fokusgebied by die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum is die ontwikkeling van praktiese lewensvaardighede.

Volgens Jolandi Visagie, wat by Huis Veronica vir tienermeisies betrokke is, is dit belangrik dat jongmense reeds tydens hul skooljare vaardighede aanleer wat hulle later in die lewe kan gebruik.

“Ons wil hê die kinders moet nie net skool voltooi nie, maar ook met praktiese vaardighede uitstap wat hulle kan gebruik wanneer hulle werk soek of hul eie inkomste wil begin verdien.”

Sy sê die sentrum wil die jongmense blootstel aan soveel moontlik leergeleenthede en moedig individue en besighede aan om betrokke te raak deur hul vaardighede met die jongmense te deel.

“Ons het reeds fasiliteite waar hulle onder meer tuinmaak en ander praktiese vaardighede kan aanleer. Ons sal dit graag verder wil uitbrei met die hulp van mense uit die gemeenskap wat bereid is om hul kennis en ervaring te deel.”

Visagie voeg by mense hoef nie noodwendig finansieel by te dra om ’n verskil te maak nie.

“Nie almal kan geld skenk nie, maar baie mense beskik oor vaardighede wat net so waardevol is. As jy kan verf, bou, vensters herstel of enige ander praktiese hulp of vaardigheid kan aanbied, maak dit ’n groot verskil.”

Twee dekades van omgee

Die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en beplan om die mylpaal in Oktober te vier.

Volgens Vr. Leon het die sentrum nooit volgens ’n vaste plan ontwikkel nie, maar oor die jare organies gegroei namate nuwe behoeftes in die gemeenskap ontstaan het.

“Ons het telkens gekyk waar die behoefte is en daarop gereageer,” sê Vr. Leon.

Hy vertel dat die terrein aanvanklik ’n fabriek gehuisves het voordat dit geleidelik ontwikkel is tot die sorgsentrum soos die gemeenskap dit vandag ken.

Met die jare het die sentrum uitgebrei om verskeie programme en huise te ontwikkel wat elk op ’n spesifieke behoefte fokus. Huis Betanië fokus op kleuters en ondersteun jong kinders wat onder meer deur klinieke na die sentrum verwys word.

Huis Luigi bied ’n nasorgprogram vir kinders tussen ses en 12 jaar. Huis Veronica ondersteun tienermeisies tussen 13 en 19 jaar, terwyl Huis Filip op tienerseuns in dieselfde ouderdomsgroep fokus.

Die nuutste toevoeging, Huis Thaddeus, is gemik op kinders wat nog nie deel van die formele stelsel is nie en help om hulle veilig op te vang en te integreer.

Die Huis van Barmhartigheid bied ondersteuning aan ouer persone deur onder meer ’n sopkombuis en palliatiewe sorg.

Volgens die sentrum is sy missie om kinders en jongmense volgens hul individuele behoeftes te ondersteun, sodat hulle hul omstandighede kan oorkom, hul skoolloopbaan kan voltooi, hul volle potensiaal kan ontwikkel en die nodige vaardighede kan aanleer om verantwoordelike, selfstandige volwassenes te word wat ’n positiewe bydrae tot die samelewing lewer.

Saam vorm hierdie programme ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk wat daarna streef om vir kinders en jongmense ’n veilige en liefdevolle omgewing te skep waar hulle kan speel, leer, gesond ontwikkel en hul volle potensiaal bereik. (MALISSA SPIES)

Lees ook:

Versorging vir pasiënte voor hul sterf

Oudtshoorn steps up for vulnerable children

Gemeenskapsliefde skep hoop hierdie Kersseisoen

Klein Karoo Kersfees bederf