
Klein Karoo Palliatiewe Sorg het verlede week, 8 Oktober, hul deure oopgemaak by St Luigi Scrosoppi sorgsentrum.
Hierdie nie-winsgewende organisasie het tans plek vir twee pasiënte en bied hul dienste gratis aan. Daar is ook plek om in die toekoms die eenheid uit te brei.
Pasiënte word deur opgeleide versorgers bygestaan om hulle so gemaklik as moontlik te maak voordat hulle die tydelike met die ewige wissel, sodat hulle vrede en waardigheid kan ervaar in hul laaste oomblikke van lewe, omring deur ondersteuning en medemenslikheid.
“Pasiënte word huis toe gestuur om hul laaste dae saam met familie te spandeer,” vertel Adri Odendaal, stigter van die organisasie.
Sy en Janita Potgieter versorg al sowat ’n jaar lank pasiënte in hul huise.
Aangesien die eenheid hul dienste gratis aanbied, maak hulle staat op skenkings en fondsinsamelingsprojekte.
Vir enige navrae, kontak gerus vir Adri by 072 133 0444.