Vaardigheid se nuwe skoolhoof op sy pos

Alsje Schoeman, nuwe adjunkhoof, en Jaco Stevens, nuwe skoolhoof van die Oudtshoorn Vaardigheidskool. Foto verskaf

Jaco Stevens is Oudtshoorn Vaardigheidskool se nuwe bekwame skoolhoof. Hy het op 1 Oktober sy plek in die kantoorstoel geneem.

Stevens is reeds 26 jaar in die onderwys, en die laaste 16 jaar in Oudtshoorn.

Sy loopbaan in onderwys skop in 2000 af, waar hy vir drie jaar by Hoërskool Outeniqua, op George en ook sy geboortedorp, skool gee. Daar was hy ook vakhoof.

Daarna trek hy na Mpumalanga, in Witrivier, en gee vir ses jaar skool, voordat hy sy pad na die Karoo vind en in 2008 in Calitzdorp vir laer-en hoërskoolleerders klasgee.

In 2009 trek hy na Oudtshoorn, en gee skool by Hoërskool Môrester. In 2020 word Stevens aangestel as adjunkhoof van die skool, en in 2024 neem hy as skoolhoof waar.

“Net voor ek klaargemaak het met skool het ek besef ek wil eintlik skool gee, alhoewel ek ’n beurs gehad het om Pas en Draai te gaan studeer,” vertel hy.

Hy is ook baie lief vir sport en om tegniese vakke vir leerders te kan aanbied, asook betrokke te wees by sport is die perfekte sinergie.

Stevens het ook vir vier jaar namens die WKOD opleiding gegee aan ander onderwysers in Siviele Tegnologie – Houtbewerking.

“Ek wil graag die stigma van ’n vaardigheidskool breek, want hierdie vaardighede wat ons vir ons leerders leer, is reeds baie skaars en is daar ’n tekort aan tegniese vaardighede,” sê hy.

Dit maak hom trots om deel te wees daarvan om kinders voor te berei vir die lewe na skool.

Hy vertel ook verder dat hy baie uitsien na die nuwe uitdaging en om waardevolle insette te lewer in die leerders se lewe.

Stevens en sy vrou Marli is ook al vir nege jaar betrokke in hul vrye tyd by die Elul Bediening, waar hulle gereeld kampe vir mans en vroue asook uitreike in die Klein Karoo aanbied.