Gemeenskapsliefde skep hoop hierdie Kersseisoen

Bo: Jeug van Huis Philip en Patrick Szücs van Easi Seeds het die sopbone afgelaai en gehelp om dit te stoor voordat dit verpak word. Onder: ader Leon, Maud Stellenboom en vrywilligers van die sopkombuis en klerebank saam met Chandelle Smuts van Easi Seeds na die oorhandiging van die een ton sopbone. Foto’s: Malissa Spies

’n Skenking van sowat een ton sopbone deur Easi Seeds gaan ’n groot verskil maak by die St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum se Huis van Barmhartigheid in Oudtshoorn. Die oorhandiging van die skenking het Dinsdag 9 Desember plaasgevind.

Die sentrum bedryf vier sopkombuise wat daagliks verskillende behoeftes in die gemeenskap aanspreek. By Huis van Barmhartigheid alleen staan ongeveer 100 mense, hoofsaaklik bejaardes en ander kwesbare inwoners, elke dag in die ry vir ’n warm bord kos.

Vader Leon van die Sorgsentrum sê skenkings soos dié hou die sentrum se werk aan die gang. “Die vier sopkombuise altesaam kan vir so 400 mense daagliks ’n maaltyd voorsien.”

Die sopbone sal reeds volgende week ’n spesiale rol speel. Dit word Vrydag 19 Desember aan bejaardes uitgedeel tydens die sentrum se jaarlikse Kerspartytjie.

Die sopbone vorm deel van ’n groter geskenkpakkie wat ook ander basiese voedselitems insluit.

Volgens Chandelle Smuts van Easi Seeds, ’n plaaslike, moderne saadmaatskappy met internasionale teen- woordigheid, is die skenking deel van hul groter doel om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Sy nooi ook ander besighede uit om betrokke te raak. “Ons probeer altyd teruggee waar ons kan; sedert Easi Seeds se ontstaan in 2019 is ons geseën, en ons groei jaar na jaar.”

Vader Leon sê die ondersteuning dra meer gewig as wat mense besef. “Volgende jaar vier ons die sentrum se 20ste bestaansjaar. Sonder bydraes en skenkings sou dit nie moontlik gewees het nie. Om ’n warm bord kos vir ’n minderbevoorregte persoon te kan gee, maak ’n wêreld se verskil.

“Daar is soveel plaaslike inwoners wat nie weet waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. ’n Warm bord kos klink eenvoudig, maar dit gee iemand hoop en waardigheid.”

Die sentrum sê die behoefte aan voedselhulp het die afgelope jaar toegeneem, en dat die Kerspakkies vanjaar ’n groot aantal bejaardes sal ondersteun tydens die Kersseisoen.

Vrywilligers vertel dat hulle daagliks sien hoe meer mense by die sopkombuise instroom, van bejaardes en werklose ouers tot kinders wat na skool ’n plek soek om iets warms te eet.

Chandelle verduidelik verder dat Easi Seeds, wat ’n moderne benadering in die bedryf volg, se jaarbeplanning vir 2026 reeds aan die gang is, met verskeie projekte in die vooruitsig.

“Een van ons drome is dat die plaaslike gemeenskap meer selfstandig kan word deur ’n liefde vir groentetuine te ont-wikkel.

“As ’n saadmaatskappy wil ons graag sien dat mense deur hul eie harde werk gesonde, vars groente kan verbou.” (MALISSA SPIES)