Kango-grotte weer oop na twee maande se sluiting

Foto: Cango Caves Facebook-blad

Die Kango-grotte het Saterdag, 11 Julie, amptelik weer hul deure vir besoekers geopen nadat die R328 na die gewilde toeristebestemming verlede Vrydag vir verkeer heropen is.

Die pad was sedert 9 Mei gesluit nadat swaar reën en rotsstortings die roete onbegaanbaar gemaak het.

Na omvangryke opruimings- en stabiliseringswerk is die pad Vrydag, 10 Julie, omstreeks 11:45 weer vir verkeer oopgestel.
’n Stop-en-ry-verkeerstelsel geld steeds op die betrokke gedeelte van die pad.

Die bestuur van die Kango-grotte het in ’n mediaverklaring gesê hulle het amptelike bevestiging ontvang dat die pad weer toeganklik is, waarna voorbereidings onmiddellik begin het om die toeriste-aantreklikheid te heropen.

“Ons is verheug om te bevestig dat die Kango-grotte op Saterdag, 11 Julie 2026, weer ten volle vir besoekers geopen het,” lui die verklaring.

“As Suid-Afrika se oudste toeriste-aantreklikheid en een van die land se kosbaarste natuurerfenisterreine, sien ons daarna uit om besoekers weer onder die grond te verwelkom om die uitsonderlike skoonheid, ryke geskiedenis en geologiese wonder van die Kango-grotte te beleef.”

Die bestuur het hul opregte waardering uitgespreek teenoor besoekers, toerismevennote, belanghebbendes en die breër gemeenskap vir hul geduld, begrip en volgehoue ondersteuning gedurende die tydperk waarin toegang tot die grotte ontwrig is.

Die heropening bied ’n welkome hupstoot vir die plaaslike toerismebedryf.

Die Kango-grotte is een van Oudtshoorn se bekendste toeriste-aantreklikhede en lok jaarliks duisende plaaslike en internasionale besoekers.

Motoriste word egter aangeraai om steeds versigtig op die R328 te ry, alle verkeersreëls te gehoorsaam en bewus te wees dat daar steeds ’n risiko van sekondêre rotsstortings bestaan.

Indien toestande dit vereis, kan die pad weer met kort kennisgewing in belang van openbare veiligheid gesluit word.

Permanente hellingstabiliseringswerk langs die betrokke gedeelte van die R328 word vroeg in 2027 beplan.

Lees ook:

Reuse-opruiming na rotsstorting op Kangogrottepad afgehandel

Het ons die vloede help veroorsaak?

Herstelwerk skryf nuwe hoofstuk in Meiringspoort se geskiedenis