Die gewilde Klein Karoo Klassique keer vanjaar van 7 tot 9 Augustus terug na Oudtshoorn met ’n program wat klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn saambring.
Die fees se Klassique-pakket, wat feesgangers toegang tot agt uitvoerings teen ’n besparing bied, is egter reeds uitverkoop. Een van die hoogtepunte van die 2026-feesprogram is die terugkeer van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) na Klassique ná 13 jaar.
Die orkes tree op tydens die Klassique Galakonsert onder leiding van maestro Richard Cock, saam met die pianis François du Toit. Die feesprogram sluit ook optredes deur onder meer Kaapstad Opera, die Universiteitskoor Stellenbosch, Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective, asook verskeie kamermusiekuitvoerings in.
’n Wêreldpremière van ’n nuwe werk deur Shane Woodborne vorm deel van die Cellissimo-program.
Benewens musiek bied Klein Karoo Klassique ook literêre gesprekke, ’n kunsuitstalling, wynervarings en verskeie Klein Karoo-ervarings aan.
Die volledige program is nou aanlyn beskikbaar by klassique.co.za. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Lees ook:
