Lente Maskerbal beloof ’n aand van glans en styl

Die Hoorn bied vanjaar saam met die Oudtshoorn Vaardigheidskool, in samewerking met Jakhals Events, ’n glansryke lentebal aan om fondse vir die opknapping van die skool se koshuise in te samel.

Die “Spring Masquerade” vind op 18 September 2026 by die Oudtshoorn Vaardigheidskool se sportgronde plaas en beloof om een van die hoogtepunte op Oudtshoorn se sosiale kalender te wees. Die sportgronde sal vir die aand in ’n elegante goud-en-navy omgewing omskep word, met die maskerbal-tema om glans aan die geleentheid gee.

Gaste kan uitsien na ’n heerlike driegang-ete, wat deur die leerders van die Oudtshoorn Vaardigheidskool voorberei en bedien sal word.

Die geleentheid bied dus nie net aan die leerders die kans om hul vaardighede ten toon te stel nie, maar gee hulle ook waardevolle praktiese ondervinding. Die kleredrag vir die aand is aandrokke en jou mooiste aandpak. “Black tie” verwys na ’n formele aandgeleentheid waar mans gewoonlik ’n swart of donkerkleurige aandpak dra.

Dit bestaan tradisioneel uit ’n swart baadjie, ’n wit formele hemp, ’n swart strikdas, ’n netjiese langbroek en formele skoene. ’n Gewone donker pak met ’n wit hemp en swart das of strikdas sal ook gepas wees vir die geleentheid. Die belangrikste is dat die voorkoms netjies, elegant en formeel moet wees.

Vir vroue beteken die kleredrag ’n lang aandrok, ’n elegante formele rok of ’n netjiese aanduitrusting. Gaste kan gerus die goud-en-navy kleurskema by hul uitrustings, juwele, skoene of maskers insluit, hoewel dit nie verpligtend is nie. Omdat dit ’n maskerbal is, word gaste aangemoedig om ’n elegante masker te dra wat by hul uitrusting pas. Dit kan eenvoudig en stylvol wees of meer dramaties, met vere, blinkers, kant of goue versiersels.

Kaartjies kos R500 per paartjie of R300 per persoon en sluit die driegang-ete in.

Die fondse wat tydens die aand ingesamel word, sal gebruik word om die koshuise van die Oudtshoorn Vaardigheidskool op te knap. Die doel is om die koshuise ’n meer gemaklike, netjiese en aangename leefruimte vir die leerders te maak.

Deur die geleentheid te ondersteun, kry inwoners nie net die geleentheid om ’n besonderse aand te geniet nie, maar dra hulle ook by tot ’n projek wat ’n betekenisvolle verskil in die leerders se daaglikse lewe kan maak.

Die organiseerders beplan ’n aand vol styl, goeie kos, vermaak en lekker saamkuier, met die leerders en hul talente in die middelpunt van die geleentheid. Teken solank 18 September in jou kalender aan. Meer besonderhede oor kaartjie-verkope, besprekings en die program vir die aand sal binnekort bekendgemaak word.