Die 17de Klein Karoo Klassique vind van 7 tot 9 Augustus in Oudtshoorn plaas en beloof ’n propvol program van klassieke musiek, jazz, literatuur, kuns, kos en wyn. Vanjaar se fees sluit ’n wêreldpremière, die terugkeer van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes ná 13 jaar en die eerste Klassique-optrede van die Universiteitskoor Stellenbosch in.
Die drie hoofaandkonserte word aangebied deur Kaapstad Opera, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes onder leiding van Richard Cock en die Universiteitskoor Stellenbosch. Feesgangers kan ook uitsien na verskeie kamermusiekuitvoerings, jazzoptredes, ontbytkonserte en laataandvertonings. Die program is so saamgestel dat besoekers al die musiekuitvoerings kan bywoon sonder oorvleuelende tye.
Een van die hoogtepunte is Cellissimo, waar agt tjelliste van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes saam met ’n sopraan optree en die wêreldpremière van ’n nuwe werk deur Shane Woodborne aanbied. Die fees bring ook hulde aan die Suid-Afrikaanse operalegende Mimi Coertse met die produksie Heimwee.
Buiten musiek bied Klassique boekgesprekke met onder andere Antjie Krog en Irna van Zyl, ’n visuele kunsuitstalling, wynproe-ervarings saam met bekende wynmakers en historiese wandeltoere.
Gratis ontbytkonserte word op 8 en 9 Augustus aangebied, terwyl ’n beperkte aantal Klassique-pakkette beskikbaar is wat meer as 20% besparing op agt uitvoerings bied.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by KKNK-kantoor op Oudtshoorn. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Klein Karoo Klassique word deur die KKNK aangebied en moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van verskeie plaaslike vennote.
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Klassique keer terug met simfonie van hoogtepunte
Kaapstad Opera se Sisikelelwe Mngenela (sopraan) en Thandolwethu Longo (tenoor) en ander is te sien in Heimwee, wat hulde bring aan Suid-Afrikaanse opera-legende Mimi Coertse. Foto verskaf