Met die eenvoudige, maar kragtige boodskap “Julle is nie vergete nie” het Oudtshoorn APD (Vereniging vir Persone met Gestremdheid) op Dinsdag 21 Julie inwoners van Coronation Memorial Versorgingsoord tydens ’n Mandeladag-uitreik bederf.
APD se kliënte het die inwoners met lekkerny-pakkies, kolwyntjies en vrolike dansies bederf om hul waardering te toon en hulle te herinner dat hulle nie vergete is nie.
Volgens Sarina Coericuis, gemeenskapsontwikkelingswerker by Oudtshoorn APD, was die besoek ’n geleentheid om dankbaarheid teenoor die ouer geslag te betoon.
“Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor die oumas en oupas wat deur hul lewens en werk ’n fondament vir ons gemeenskap gelê het. Hierdie gebaar is ’n klein teken van waardering vir alles wat hulle vir ons gedoen het.”
Oudtshoorn APD is ’n nie-winsgewende organisasie wat sedert 1971 terapeutiese, maatskaplike en gemeenskapsontwikkelingsdienste aan persone met gestremdhede in Oudtshoorn, Dysselsdorp en omliggende plaasgebiede lewer.
Die organisasie ondersteun kinders en volwassenes met ernstige en diepgaande gestremdhede, met kliënte wat volgens hul vlak van funksionering as lae-, medium- of hoëfunksionerend ingedeel word.
Coericuis het gesê die APD is afhanklik van die ondersteuning van borge, instansies en die gemeenskap om sy dienste volhoubaar te hou.
“Elke bydrae, hoe klein ook al, dra by tot die volhoubaarheid van ons dienste. Soos ons sê: ‘Elke druppel maak die emmer vol’.
“Ons nooi die publiek vriendelik uit om hul dienste of enige finansiële bydrae te lewer ten bate van die APD-gemeenskap.
“Die Oudtshoorn APD bly verbind tot die leuse: ‘Die een hand was die ander hand’. Saam met die gemeenskap glo ons dat ons kan groei en ‘n verskil maak.”
Die APD het na die uitreik ook ’n besoek van die Pediatric Care Africa-span ontvang, waartydens ’n nuwe samewerkingsprojek bespreek is. Besighede en ander rolspelers in die gemeenskap sal die geleentheid kry om by die inisiatief betrokke te raak.
Die Hoorn sal binnekort in ’n opvolgberig meer vertel oor die projek en hoe die publiek en besighede ’n bydrae kan lewer. (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "“Julle is nie vergete nie”"