Opposisie: Ons steun nie 2020/21-begroting

DIE opposisiepartye in die Groter Oudtshoorn se munisipale raad, die ANC, EFF, Icosa en Sarco, het teen die goedkeuring van die 2020/2021-begroting asook teen tariefverhogings gestem, het die partye tydens ’n gesprek met

Die Hoorn gesê.

Die begroting tree op 1 Julie 2020 in werking.

Tydens die gesprek was dit duidelik dat daar frustrasie is in die opposisiepartye omdat die DA sy meerderheidstem gebruik om besluite te neem en nie voorstelle van opposiepartye oorweeg nie.

“It is a house divided,” het Gaven Juthe, die raadslid van Sarco, die huidge situasie binne die raad opgesom.

Volgens Diswayne Maarman van die EFF is dit jammer dat die media nie genooi is na die vergadering waar die begroting goedgekeur is nie.

“Dit sou goed gewees het vir deursigtigheid as die media daar was, veral ten opsigte van die begroting en die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP).
“Ons het teen die tariefverhogings gestem omdat mense en besighede swaarkry, veral met Covid-19.”

Onder kwessies wat tydens die gesprek met Die Hoorn uitgewys is, is die volgende:
• Die hoofsweep van die ANC, Jongelizwe Tya-tya wat die gesprek geïnisieer het, sê die ANC is veral bekommerd oor die bekostigbaarheid van die watertarief vir huishoudings.

“Met Covid-19 beveel gesondheidspesialiste aan dat mense hulle hande moet was, iets wat veroorsaak dat meer water gebruik word. In die goedgekeurde begroting kos watergebruik bokant 75 kiloliter ’n huishouding R21,25 per kiloliter, maar R15,35 vir besighede. Dit is nie regverdig nie, veral nie teenoor mense wat werkloos is nie.”

Tyatya sê die ANC is voorts bekommerd dat daar nie in die GOP voorsiening gemaak word vir infrastruktuurontwikkeling wat sal lei tot werk­skepping nie.

“Daar is al gevra dat by die nasionale regering aansoek gedoen moet word vir befondsing vir die vervanging en onderhoud van waterpype wat breek, asook vir die plavei van strate. Dit asook die bou van spoedbulte kan twee of drie maande lank werk vir inwoners skep.”

Hy bepleit ook die skep van ’n besigheidsvriendelike omgewing wat sal lei tot beleggings in die dorp en die oorlewing van besighede kan verseker, asook vir gesprekvoering tussen die plaaslike regering en besighede, en die transformering en ondersteuning van toerisme.

Tyatya sê die ANC sal graag wil sien dat daar in wyke saamgewerk word en mense met idees na vore kom wat almal, ook jongmense en mense met gestremdhede, kan ondersteun.

“Die GOP praat nie daaroor nie,” sê hy.

Hy het sy kommer uitgespreek oor basiese diens­te wat volgens hom nie gelewer word nie en oor prestasiebonusse wat deur al die direkteure ontvang is.

• Maarman (EFF) wou weet wat geword het van die visie van die voormalige burgemeester, Colan Sylvester, vir Oudtshoorn. “Begin 2016 het die burgemeester die visie gehad om Oudtshoorn te ontwikkel in ’n sport- en onderwysfokuspunt. Niks het sedertdien gebeur nie.

“Ons dorp is besig om te sterf en bevolkingsgetalle besig om af te neem. Ons is die enigste dorp in die streek waarvan die bevolking krimp.”

• Gaven Juthe (Sarco) het gesê hy het vrae oor die verskillende maniere waarop die raad die dorp se twee olimpiese swembaddens in stand hou.

“Dit bring my by die vraag: Do black lives matter? Is dit waarom ’n verdrinking in die Bridgton Swembad plaasgevind het?”

Volgens Juthe gaan miljoene rande se kapitaalprojekte na buite die dorp, word geld nie op die dorp bestee nie, en word voorkeur verleen aan kontrakteurs uit ander dorpe.

“Die munisipaliteit se finansiële en ouditeursverslae is ’n weerspieëling van wat gebeur. Daar is nooit ’n werkswinkel oor die ouditeursverslae nie.”

• Vlancio Donson (Icosa) het vrae gehad oor die kapitaalbegroting waarvan 40% volgens hom nie bestee is nie.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die werkloosheidsyfer in die gebied wat steeds styg.

• Ander kwessies wat krap en wat deur opposisieraadslede uitgelig is, was die oorbetaling van raadslid Marcellis Thysse se salaris vir ’n lang tyd­perk nadat hy in Julie 2018 ingehuldig is as raadslid.

• Geld wat raadslede glo vir ’n hofsaak skuld.

• Die groot onderbesteding van die munisipaliteit se kapitaalbegroting. (Deur Liesel le Roux)