DIE Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het die Good-party se Brett Herron uitgedaag om bewyse te verskaf vir bewerings wat hy gemaak het na aanleiding van ’n stemopname wat op Oudtshoorn gemaak en verlede week onder meer op Twitter en WhatsApp versprei is.
Herron het onder meer Bredell van dorpskaping beskuldig en ook beweer dat hy ’n beroepsoldaat was en later die hoof van die Infanterieskool op Oudtshoorn.
Bredell het dié bewerings as leuens en karaktermoord bestempel en sê Herron is hom ’n verskoning verskuldig.
Die stemopname is in Desember 2019 gemaak tydens ’n gesprek wat Bredell as voorsitter van die Wes-Kaapse DA gevoer het met die DA-raadslede van Oudtshoorn. Die opname is ook deur Oudtshoorniete op WhatsApp rondgestuur.
Dit is nie bekend wie van die teenwoordiges by die vergadering die stemopname gemaak het nie.
In die stemopname praat Bredell met die raadslede oor die opsie om Oudtshoorn onder administrasie te plaas.
Volgens ’n verklaring van Bredell het die dorp in daardie stadium verskeie uitdagings onder lei-ding van die burgemeester ervaar, waaronder finansiële volhoubaarheid, bewerings van bedrog, korrupsie en wanadministrasie asook ondersoeke deur die Valke.
“Die opname maak dit duidelik dat ek die behoeftes van die mense van Oudtshoorn voor die party gestel het. As ’n soort administrasie inderdaad plaasgevind het, sou dit beteken het dat die DA – my eie party – nie in beheer sou wees nie. Dit wys die gebreke in die bewerings wat tans die ronde doen,” sê Bredell.
Volgens Bredell is dié opsies soortgelyk aan die wat drie jaar gelede in samewerking met Pravin Gordhan op Oudtshoorn gedoen is. (Deur Liesel le Roux)
Uitdaging na verspreiding van stemopname
