DIE verhoor van drie verdagtes wat tereg staan op sewe aanklagte van roof met verswarende omstandighede, voertuigdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie is in die streekhof op Oudtshoorn uitgestel vir uitspraak ná ’n Artikel 174-ontslagaansoek van een van die verdagtes.
Zuko Martin (38) van Cradock, Liberty Mpala (31) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (29) van Langa word daarvan aangekla dat hulle op 23 Junie 2017 die eienaar van die Twaksak Supermark op Van Wyksdorp, George van Tonder, van meer as R260000 en sy Ford Ranger-bakkie beroof het nadat hulle hom vasgebind het.
Adv Benito Metembo vra die hof vir die ontslag van Mpala omdat hy nie in die supermark was nie en nie deur staatsgetuies geïmpliseer word nie.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, staan die aansoek teen.
Streeklanddros Retha Pretorius het uitspraak uitgestel tot 15 Julie 2020. (Deur Garnett Wicomb)