DOEN wat jou hand vind om te doen en moenie ledig wees nie.
So glo Jonathan Jantjies en Magdelena Christians van Zoar, ’n nedersetting tussen Ladismith en Calitzdorp.
Jonathan vertel: “Toe lockdown aanbreek, het ons gewonder hoe ons die ‘eensaamheid’ gaan verdryf. Maar ons het ook geweet stilsit is nie vir ons nie. Dis toe dat ons besluit het om ons liefde vir die grond uit te leef.”
En terwyl baie ander gelees, gekook en gebak het, het die twee hulle tot hul tweede natuur gewend: Tuinmaak.
Magdelena vertel verder: “Jonathan het die harde deel gedoen om die grond gereed te kry. Dan het ek maar eetgoedjies aangedra. Maar toe dit tyd geword het om te begin plant, het ek self my groenvingers in die sand gedruk. As mens met liefde saai, sal jy met liefde die oes indra. Dis wat ons glo.”
Binne net ’n bietjie meer as twee maande het die twee die vrug van hul arbeid letterlik en figuurlik gepluk.
Jonathan wat ook betrokke is by ’n nie-regeringsorganisasie Genesis Rural Development, spog: “Ons het alle wintergewasse – ertjies, boerbone, uie en beet. Dan is daar nog aarbeie, kool en tamaties en rape.”
Hulle eet nou organies uit hul eie tuin!
“En ons deel graag met diegene wat in nood is in hierdie uur van lockdown,” sê Magdalena. (Deur Deon Meyer)
