Ruiters van die Outeniqua Uithouritklub het uitstekend gevaar tydens die 51ste Fauresmith-uithourit, wat onlangs in Fauresmith in die Vrystaat aangebied is.
Altesaam 183 ruiters het aan vanjaar se rit deelgeneem. Die ruiters en hul perde moes oor drie dae ’n totale afstand van 207 km ry.
Slegs 53% van die deelnemers het vanjaar daarin geslaag om die rit suksesvol te voltooi.
Op die eerste twee dae het die deelnemers elke dag 74,2 km afgelê, waarna die rit op die derde dag met ’n verdere 58,8 km afgesluit is.
Die ruiters het in die kinderruiter-, juniorruiter-, liggewig-, standaard-gewig- en swaargewigkategorieë meegeding. Michael Vaaltyn en sy perd, Sanniesguns Barbuda, het besonder goed gevaar en die rit algeheel in die tweede plek voltooi.
Die kombinasie het ook die liggewigka-tegorie gewen. Hulle het die 207 km in ’n tyd van 8:11:24 voltooi, teen ’n indrukwekkende gemiddelde spoed van 25,275 km/h. Nico-Meyer le Roux en sy perd, Areli Royal Reign, het derde in die standaardgewigkategorie geëindig.
Hulle het die rit in ’n tyd van 8:20:17 voltooi, teen ’n gemiddelde spoed van 24,826 km/h.
Die Fauresmith-uithourit toets jaarliks beide perd en ruiter, met deelnemers wat oor drie opeenvolgende dae hul perde se fiksheid, herstelvermoë en uithouvermoë moet bestuur.
Plaaslike ruiters presteer by Fauresmith
Die Le Roux Endurance span. Foto: Johanette Photography
Be the first to comment on "Plaaslike ruiters presteer by Fauresmith"