Y-NOT, veel meer as net ’n eiendomsagentskap

Toe Hennie Davel meer as 20 jaar gelede sy grond verkoop het en ’n plaas in die omgewing gesoek het om te koop, het hy besef daar is nie werklik eiendomagente wat op landbougrond fokus nie. As boer en kenner van die omgewing, was hy die aangewese persoon om daardie behoefte te vul en hy en sy vrou Petro het hulle as eiendomsagente bekwaam.

Dit was die eerste tree tot die totstandkoming van Y-NOT eiendomme in Januarie 2005.

Van daardie eerste besluit om die eiendomsmark te betree tot nou het Y-NOT uitgebrei tot ’n agentskap wat residensiële-, kommersiële en landbou-eiendomme bemark. Dit het egter nie by die verkoop van eiendomme gebly nie. Y-NOT het ook bekend geraak as verhuringsagente van residensiële en kommersiële eiendomme. Petro spesialiseer reeds die afgelope 20 jaar in die verhuring van residensiële eiendom terwyl Hennie nie net kommersiële eiendomme verhuur nie, maar talle van hulle ook bestuur aangesien die eienaars elders woon.

Hennie doen ook waardebepalings van eiendomme en dit is ʼn aspek wat hy met net soveel integriteit en erns hanteer as die res van die agentskap se dienste. “Wanneer daar ’n waardepaling gedoen word, moet mens realisties wees en nie onrealistiese verwagtinge by die verkoper skep nie, want die bank sal in elk geval ’n professionele en markverwante waardasie laat doen as ’n koper om ’n verband aansoek doen.”
Hy voeg by dat hulle kliënte ook bystaan met die aansoek van verbande.

Wat Y-NOT eiendomme van ander agentskappe onderskei, is die feit dat hulle nie deel is van ’n groter groep nie, maar eerder ’n familiebesigheid is. “Ons is ’n klein groepie en ons kan by die veranderende omstandighede en behoeftes van ons gemeenskap aanpas. Oudtshoorn is steeds ’n plattelandse dorp met ’n plattelandse bekoring en dit is belangrik dat ons in voeling is met daardie pols van die dorp en die omgewing,” sê Hennie.

Hy is reeds etlike jare lid van die Oudtshoorn Besigheidskamer en het uitstekende bande met bykans elke onderneming op die dorp wat hom weer in staat stel om kliënte wat spesifieke dienste met nuwe eiendomme benodig, na kundiges te verwys. “Ons maak ’n punt daarvan om sakemense te ontmoet en te leer ken, want ons moet weet waarheen om byvoorbeeld ’n kliënt wat huisverbeteringe wil doen, te verwys.”