Vrouedag – Master Maths se Suzaan: ’n Vrou met somkrag en meester van getalle

Suzaan Ellis is reeds die afgelope 25 jaar die eienares van die Master Maths Oudtshoorn konsessie.
Talle leerders van Oudtshoorn en omliggende dorpe is deur die hande van haar en dié van haar bekwame personeel.

Hulle toegewydheid en sukses weerspieël Master Maths Oudtshoorn se missieverklaring op hulle webtuiste: “By Master Maths Oudtshoorn wil ons almal help om hulle volle potensiaal te ontwikkel. Dit is vir ons belangrik dat leerders ʼn liefde vir wiskunde, die nodige selfvertroue en wiskunde-vaardighede ontwikkel. Ons streef daarna om alles in uitnemendheid te doen. Kwaliteit individuele onderrig wat alle leervoorkeure in ag neem, word gebruik. Individuele behoeftes word dus raakgesien en in ag geneem wanneer ons ’n leerder begelei om punte te verbeter.”

Suzaan se passie vir wiskunde-onderrig het in haar eerste jaar op universiteit begin toe ’n wiskunde-dosent haar volgens haar breintipe onderrig het en sy besef het dat sy toe met groter gemak presteer het.

Sy het na voltooiing van haar graad op universiteit aangebly om ʼn diploma in remediërende onderwys te verwerf en meer te leer van hierdie konsep. Haar ondersoekende taak het oor wiskunde-angs gehandel.

Na twee en ’n half jaar in die onderwys het sy vir die destydse IWWOUS (Instituut vir Wiskunde en Wetenskap Onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch) in die Oos-Kaap begin werk. Sy het in 2001 na Oudtshoorn verhuis waar sy die Master Maths-sentrum geopen het.

Sy vertel dat sy by tye beangs was oor hierdie groot stap, maar het vasgehou aan Filippense 4:13 wat lui dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons die krag gee. Die Amplified Bible se vertaling daarvan lê haar na aan die hart.

Sy het later ook die konsessie vir Master Science gekoop.

Daar is tans sewe voltydse- en vyf deeltydse personeellede wat saam met haar werk. Sy is opreg dankbaar vir die bydrae, ondersteuning en rol wat elkeen van hulle vertolk.

Met die onderneming se groei het sy die behoefte gehad vir hulp en onder- steuning ten opsigte van besigheidsbeginsels. Daarom het sy in 2015 ’n groepie vroue byeen gekry en Christen Sake-vroue begin.

Die groep kom al om die derde week bymekaar om spesifieke en relevante onderwerpe en beginsels te ondersoek en by mekaar te leer. Die teksvers waarop die groep gebaseer is, is Jakobus 1:5 “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan Hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Die pad wat Suzaan tot dusver gestap het, was gevul met mense wat werklik omgee. “Ek is opreg dankbaar vir elke vriendin, elke personeellid van skole en Master Maths, elke ouer en elke leerder.”

“I can do all things [which He has called me to do] through Him who strengthens and empowers me [to fulfill His purpose—I am self-sufficient in Christ’s sufficiency; I am ready for anything and equal to anything through Him who infuses me with inner strength and confident peace.]” Phil 4:13 (Ampl)