Van Wyksdorp-rowers Maart gevonnis

DIE hof moet vir vonnisdoeleindes in ag neem dat die drie beskuldigdes reeds vir byna vyf jaar in aanhouding is.

Dit was verlede week die pleidooi van die regsverteenwoordigers van Zuka Martin (32) van Cradock, Liberty Mpala (33) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (31) van Langa wat byna vyf jaar gelede – op Vrydag 23 Junie 2017 – ’n supermarkeienaar op Van Wyksdorp buite Ladismith, George van Tonder, van meer as R260 000, sigarette, selfoon, skootrekenaar en sy Ford Ranger-bakkie beroof het.

Martin Mpala en Simakade het tereg gestaan op ’n klagte van roof met verswarende omstan­dighede, een van diefstal van ’n motorvoertuig, een van die besit van ’n vuurwapen, drie van die besit van verbode vuurwapens en een van die onwettige besit van ammunisie.

Hy het getuig dat die rooftog fyn beplan is en sy werknemers lank na die voorval steeds bang was om alleen te werk.

Die rowers is na die rooftog – onderweg na Laingsburg – deur die Ladismith Polisie agterna gesit.
Die polisie op Laingsburg ook daaroor ingelig.

’n Skietery het gevolg en twee van die mans in die bussie het gesterf toe dit omgeslaan het.

’n Ontslagaansoek in terme van Artikel 274 van Mpala se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, is deur die hof van die hand gewys.

Mpala het aangevoer dat hy ’n taxibestuurder is wat deur mense gehuur is om hulle na Van Wyksdorp te neem.

Metembo versoek die hof om in ag te neem dat hy in ’n mindere mate by die rooftog betrokke was en vir byna vyf jaar in aanhouding is.

Hy is ook ’n eerste oortreder.

Martin en Simakade se regshulpprokureur, Eugene Roos, het ook die hof gevra om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Volgens hom het niemand tydens die voorval beserings opgedoen nie en is al die items wat geroof is teruggevind.

Streeklanddros Retha Pretorius het Martin en Simakade op vier van die aanklagte en Mpala op twee skuldig bevind.

Sy het daarna die saak vir vonnis tot 14 Maart uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)