Snyman vra vandag vir verwydering van “coloured”

Glen Snyman. Foto verskaf

OUDTSHOORN se Glen Snyman se kruistog om rasseklassifikasie in Suid-Afrika afgeskaf te kry, gaan voort.

Snyman is vandag in die parlement waar ’n petisie van People Against Race Classification (PARC) voor die petisiekomitee sal dien en waarin gevra word vir die verwydering van die woord “coloured” van alle regerings- en private dokumente.

Snyman is die stigter van PARC.

Verrigtinge sal om 12:30 begin en op DSTV kanaal 408 of op Facebook (https://facebook.com/ ParliamentofRSA) of Youtube (https://youtube.com/user/ParliamentofRSA) gevolg kan word.

Verskeie ministeriële afvaardigings asook van die Menseregtekommissie en die Khoisanraad word verwag.

Volgens PARC se petisie is die woord “coloured” verwarrend, beledigend, rassisties en verbloem dit die historiese identiteit van die khoi en San-mense. Die petisie sê ook dit is rassisties om te dink dat twee rasse saam ’n derde ras kan skep, of om te glo wit en swart is suiwer rasse.

PARC het dit die laaste tyd ook toegespits op bewusmakingsveldtogte in verskeie Suid-Kaapse dorpe om mense aan te moedig om op sensusvorms hul ras as “ander” aan te dui en eerder die kultuurgroep waarby hul tuis voel as hul identiteit aan te gee. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Snyman vra vandag vir verwydering van “coloured”"

  1. Zenobia Adams | 25/02/2022 at 17:56 |

    Oh yes it’s about time.

Comments are closed.