DIE Calitzdorp Polisie ondersoek ’n saak van moord nadat twee mans Maandag 14 Februarie oor ’n selfoon se geheuekaart gestry het, wat tot ’n bakleiery en die mesdood van een van die mans, Fanie Plaatjies (39), gely het.
Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is Plaatjies noodlottig in die bors gesteek.
Die verdagte het reeds vandeesweek in die Calitzdorp Landdroshof op ’n klag van moord verskyn.
Volgens ’n ingeligte bron na aan die ondersoek was Plaatjies en die verdagte vriende, en glo baie na aan mekaar.
Die geveg, wat uiteindelik tot ’n messtekery gelei het, het naby ’n vraghouer wat as winkel dien, plaasgevind.
“Die twee manne het oor ’n geheuekaart begin stry en is die messe toe uitgetrek. Fanie is twee keer gesteek waarvan een meshou hom in die nek getref het.
“Hy het nog weggehardloop, maar het in Tweede Laan ineengestort.
“Die straat was gou-gou vol nuuskieriges en die ambulans is ontbied. Fanie is egter op die toneel dood verklaar,” het die bron, wat gevra het om anoniem te bly, gesê.
’n Familielid van die verdagte sê hulle voel teleurgesteld, maar ook hartseer oor wat met Plaatjies gebeur het.
“Mense moet net nie kom uitskoppraatjies hou nie, laat die polisie toe om hul ondersoek te doen,” het die familielid gesê. (Deur Deon Meyer)
Twis oor geheuekaart lei tot Calitzdorp-man se mesdood
Die noodlottige voorval het in Twee Laan, Bergsig, plaasgevind. Foto: Deon Meyer