Klein Karoo Saad (KKS), en sy filiale Klein Karoo Saadproduksie asook Agrofors het vroeër die week ’n tjek vir R200 000 aan Langenhoven Gimnasium oorhandig.
Hierdie is die tweede jaar dat die KKS groep die KKS-Gimmies Sporttoernooi borg wat vanaf 24-27 April 2026 by Gim plaasvind. Vanjaar gaan sowat 40 spanne van 18 skole van die Wes- en Oos- Kaap, sê mekaar die styd aan in rugby, netbal asook seuns- en dogtershokkie. Daar is reeds 13 rugbyspanne, 7 netbalspanne, 9 seunshokkie-spanne en 10 dogtershokkiespanne wat die naweek deelneem.
David Malan, besturende direkteur van KKS, het Maandag die tjek aan Carl Snyman, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium oorhandig.
“Ons is reeds vir baie jare betrokke by skoolsport, op baie verskillende terreine. Ons glo dat deur sport, ons die jeug voorberei word vir die uitdagings wat hulle in die gesig staar na skool en universiteit. Daarom is dit vir ons ’n voorreg om ook deur ons borgskappe ’n bydrae te kan lewer aan die ontwikkeling van ons jeug.” het Malan aan Die Hoorn gesê.
Hy wens elke leerder, afrigter, en onderwyser sterkte toe vir die toernooi wat in April by Langenhoven Gimnasium plaasvind.
“Toeskouers kan uitsien na opwindende wedstryde, goeie sportmanskap en die geleentheid vir jong sporttalent om hulle staal te wys,” lui Gimmies se inskrywing op Facebook. Die toernooi is oop vir die publiek en almal word uitgenooi om hul gunstelingspanne te kom ondersteun. (ANGELIQUE ERASMUS)
