Kom leer oor die wonder van granate by opedag

Hoe rooier hoe mooier! Die Klein Karoo se granate is reg om vir die uitvoermark gepak te word. Kom beleef die hele proses – van boord tot pakstoor en kom leer meer oor die wonder van granate. Foto verskaf

Dis granaattyd in die Klein Karoo en op Saterdag 28 Maart gooi Celebratio Granaatplaas buite Oudtshoorn sy plaashek oop vir die heel eerste granaat-opedag in die Suid-Kaap.

Celebratio is die tuiste van Karoo Wonderful Pomegranates.

‘n Heerlike program is vir die dag saamgestel waar mense die granaat kan volg van waar dit gepluk word tot waar dit vir die uitvoermark verpak, of versap word om Karoo Wonderful Pomegranates se bekroonde granaatprodukte te vervaardig.

Ook op die program is ’n kosdemonstrasie deur die TV-sjef Marinda Engelbrecht en ’n skemerkelkdemonstrasie met granate as hooftema. Gaste sal die geleentheid kry om die geregte en drankies te proe.

Daar is drie sessies om van te kies – 09:00, 12:00 of 15:00. Die program by elke sessie is presies dieselfde.
Kaartjies kos R300 en sluit die volgende in:

  • ’n boordtoer waar jy ook jou eie granate kan pluk
  • ’n pakstoor- en versappingsaanlegtoer
  • ’n kosdemonstrasie met Marinda Engelbrecht waar sy granate in haar geregte gebruik
  • ’n demonstrasie deur ’n mixologist wat ’n paar drankies gaan maak met granaatprodukte
  • proe van die kos en drankies
  • ’n lekker rustige kuier op die grasterras waar ’n paar plaaslike restaurante heerlike kos sal verkoop.

Daar is ook ’n koffiestalletjie, ’n buitekroeg en ’n wynstalletjie. Kaartjies is beskikbaar op www.celebratio.co.za of by Marita by 082 335 6059. (MARITA MEYER)