Wes-Kaapse regering gevra om in te gryp en raad te steun
Die Wes-Kaapse provinsiale kabinet het gister goedkeuring daaraan verleen dat die Kannaland Munisipaliteit onder administrasie geplaas word.
Die ingryping in die munisipaliteit vind plaas ingevolge Afdeling 139(5) van die Grondwet en behels ook die daarstel van ’n ondersteuningsplan vir die munisipaliteit deur die Departement van Plaaslike Regering en die provinsiale tesourie.
Die besluit is deur die kabinet geneem nadat die nuwe Kannalandraad ’n versoek aan die Wes-Kaapse regering gerig het vir sodanige ingryping in die raad en steun vir die raad se huidige regerings-, operasionele en tegniese behoeftes.
Die Kannalandraad het by ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydag (2 Desember) besluit om die versoek om hulp aan die Wes-Kaapse regering te rig.
Luidens ’n persverklaring wat gister deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, uitgereik is, steun die nasionale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die provinsiale tesourie ook die ingryping by Kannaland.
Bredell sê die Kannaland Munisipaliteit is in ’n benarde finansiële posisie. “Net na die plaaslike verkiesing in Augustus is die provinsiale departement van plaaslike regering deur die nuutverkose raad gevra om ’n deeglike opname te doen van die situasie by die munisipaliteit, die finansiële situasie ingesluit.
“ ’n Aantal ernstige finansiële, tegniese, operasionele en regeringsuitdagings wat die nuwe raad geërf het, is gevind, insluitend onvolhoubare loonuitgawes en ’n groot hoeveelheid skuld. Skuld aan Eskom was meer as R14 miljoen.”
Die Ouditeur-Generaal het ook pas vir Kannaland ’n ongunstige ouditmening gegee – die swakste moontlike bevinding waartoe hy kon kom.
“Al hierdie dinge bevestig dat die munisipaliteit dit tans in ’n ernstige finansiële krisis bevind en as gevolg daarvan nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie.”
Bredell sê die huidige raad van Kannaland sal tydens die proses voortgaan om te funksioneer en die Wes-Kaapse regering ondersteun om die finansiële herstelplan en ondersteuningsplan tot uitvoer te bring.
“Die provinsiale ingryping in Kannaland het ten doel om die kapasiteit binne die munisipaliteit te versterk en te ondersteun sodat die Kannaland Munisipaliteit sy eie sake kan bestuur, en uitvoering aan sy funksies en magte kan gee.”