Uitspraak in ’n saak waarin ’n man van Oudtshoorn van die moord op sy vrou in 2011 aangekla word, word Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof gelewer.
Twee sielkundiges het verlede week oor die beskuldigde, Gwengwa Wilson, se toerekeningsvatbaarheid getuig. Dr HG de Clercq van die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal waar Wilson drie jaar gelede vir 30 dae onder observasie was, het getuig dat hy wel toerekeningsvatbaar is.
Volgens haar het hy die betrokke aand in 2011 beslis doelgerig opgetree. Hy het sy vuurwapen uit ’n kluis agter sy bed gaan uithaal, die magasyn daarin geplaas, dit oorgehaal en na sy dogter se kamer gestap waar hy drie skote op sy vrou afgevuur het.
Dr Clifford van Wyk het getuig dat Wilson nie doelgerig opgetree het nie.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het versoek dat Wilson aan moord skuldig bevind word omdat hy ’n gefabriseerde weergawe voor die hof gebring het.
Wilson se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die vraag gestel of die staat bewys het dat die beskuldigde die betrokke aand tussen reg en verkeerd kon onderskei.
“Die bewyslas rus op die staat en ek versoek die hof om die twyfel aan die beskuldigde te gee en hom vry te spreek,” het Shone gesê.
Die saak het voor streeklanddros Mark van Wyngaardt gedien.
(Deur Garnett Wicomb)