Jawoord in die sterre

Dewald Scheepers en Tehillah Kuhn wat in Oudtshoorn onder die sterre verloof geraak het. Onder: Die glasskyf met die groot vraag. Foto’s: Salt & Light Photography

Deur Angelique Erasmus
TWEE verliefde Georgiete het verlede week onder die Oudtshoorn-sterre verloof geraak nadat die jawoord met die hulp van ’n teleskoop gevra is!

Dewald Scheepers (23) en Tehillah Kuhn (22) was op Sondag 23 Junie in Oudtshoorn omdat Tehillah se pa, dr Stephan Kuhn, die dag hier gepreek het.

Wat Tehillah egter nie geweet het nie, is dat Dewald ’n verrassing-verlowing vir hulle daardie aand beplan het, iets wat hy vooraf met Leonardo Oosthuizen van Oudtshoorn gereël het.

Oosthuizen bied al sowat 14 jaar sterrekyk-toere in die omgewing aan.

Volgens Tehillah het sy en Dewald solank na ’n restaurant op die dorp gegaan om plek te hou vir diegene wat nog by die kerkdiens was.

Daar het Oosthuizen hulle ewe onskuldig kom vra of hulle dalk sou belangstel om sommer daar by die restaurant na die sterre in die Klein Karoo te kom kyk.

Dewald het in Desember ’n ster aanlyn “gekoop” as ’n Kersgeskenk vir Tehillah en dit na haar vernoem.

Hy het vooraf met Oosthuizen gereël dat hy die aand vir hulle Tehillah se ster sou wys.

“Ek het een van my ou teleskooplense geneem en hom gemodifiseer om te kon doen wat Dewald gevra het. Ek het ’n glasskyf met die woorde Will you marry me ingevoeg,” vertel Oosthuizen.

Oosthuizen het aan die paartjie verduidelik dat die ster in die Andromeda-sterrestelsel is en dat hy eers ’n ander lens sal moet opsit.

Dis toe dat hy die “trou-lens” opsit!

Dewald het eerste gekyk.

“Toe ek die woorde deur die lens sien, toe tref dit my, en ek het myself voorberei en net die oomblik ingeneem. Dit was net ek en sy op daardie oomblik,” vertel Dewald.

“Ek het die woorde deur die lens gesien, en toe ek omdraai, staan Dewald op sy knieë met ’n ring in sy hand. Ek het dit glad nie verwag nie,” sê Tehillah op haar beurt.

Natuurlik het sy die jawoord gegee!

Haar vriendin, Kelly-Jane Arthur, wat as fotograaf werk en by die restaurant weggekruip het, was daar om die oomblik vas te vang.

Volgens Dewald het hy die idee vir hul verlo-wing op die internet gekry, maar aanvanklik gesukkel om iemand in Suid-Afrika op te spoor wat hom kon help; totdat hy vir Oosthuizen opgespoor het.

“Die oomblik was perfek, en sy het die grootste en mooiste glimlag op haar gesig gehad toe sy besef wat gebeur,” sê Dewald.

Hy sê hy wou oorspronklik die jawoord in hul tuisdorp, George, vra, maar het besef dat Oudts­hoorn se sterre van die mooiste en helderste in die land is.

Volgens Oosthuizen vermoed hy dit is die eerste keer dat die jawoord so in Suid-Afrika gevra is, en dat dit beslis ’n eerste vir Oudtshoorn is.