Deur Heinrich Bosman
DIE vraag na vinniger internet word groter soos meer gebruikers die internet ontdek.
Vandag se jeug word toenemend aan internet-tegnologie blootgestel, en om internet te hê is vir hulle soos om asem te haal, heeltemal noodsaaklik en die norm.
Datakoste in Suid Afrika is baie duurder as in ander dele van die wêreld, en die opsies en mede-dinging is neem ook toe.
Dit kan soms verwarrend en baie tegnies raak wanneer daar na ’n internetverskaffer gesoek word. Toe die internet lank voor die dae van ADSL sy verskyning gemaak het, het verbruikers met ’n modem deur ’n telefoonlyn aan die internet gekoppel.
Wie kan die skril klanke vergeet terwyl die lyn sing en na ’n konneksie iewers soek.
Dit was die dae van die 56 Kbps-modems – nou nie dat daar ooit 56 Kbps gehaal is met die modem nie!
Telkom het in 2002 ADSL in werking gestel met ’n beginspoed van 256 Kbps.
Die spoed het met die jare beter geraak.
Deesdae het verbruikers ’n reeks van lynkeuses vanaf 2 Mbps tot 40 Mbps, tesame met “capped” en “uncapped” pakkette.
(Sien onder vir verduidelikings.)
Tegno-terminologie:
Kbps – kilobites per sekonde
Mbps – megabites per sekonde
Gbps – gigabites per sekonde
1024 Kbs = 1Mb
1024 Mb = 1 Gig
Capped internet – wanneer die hoeveelheid data wat jy aflaai of gebruik geperk word.
Uncapped internet – geen inperking op die hoeveelheid data wat gebruik word nie.
Streaming: Die speel van flieks of luister na musiek, soos dit aflaai speel dit sonder om te hak of te stop. Geleidelike speel daarvan.
Selfoonmaatskappye het nie op hulle laat wag nie, en wou ook ’n happie van die internet-pastei hê.
Die uitbring van ’n “dongle” wat in die rekenaar ingedruk word, het die internet voete gegee, en draadvry gemaak, maar hoe meer data gebruik word, hoe duurder is hierdie opsie, en die internetspoed is ook afhanklik van opvangs.
Dus was daar twee opsies, die fisieke installasie van ’n ADSL-lyn of die “dongle”.
Faktore soos die gebruik van sosiale media, die luister na musiek, die kyk van video’s, en selfs TV-genot soos Shomax en Netflix beïnvloed ons behoefte aan meer en vinniger data.
Met sosiale media wat die wêreld deesdae kleiner maak vir hope verbruikers, en ook die luister na musiek en kyk van video’s op YouTube het selfs die manier wat ons TV en flieks kyk, verander.
Verbruikers begin al meer na ADSL as opsie kyk omdat dit nie net vinniger en gladder kykgenot verskaf nie, maar ook omdat die hoeveelheid data wat te koop is, goedkoper raak.
Daar is ook meer verskaffers wat met mekaar meeding.
Op dié manier sien die “uncapped” pakkette die lig in die soeke na spoed omdat alles “gestream” word.
Om ’n taamlike goeie gehalte fliek te “stream” benodig jy minstens 4 Mbps se lynspoed.
Hoe beter gehalte jy wil “stream”, hoe groter moet jou lynspoed wees, maar hierin lê die probleem.
Watter opsies word op Oudtshoorn aangebied?
ADSL: ADSL-lyne is nie oral beskikbaar nie en indien jy wel ADSL het, verminder jou spoed hoe verder weg jy van die sentrale af is. Telkom het dit aangespreek deur optiese vesel (fibre) te installeer na kleiner sentrales wat in die woonbuurte geïnstalleer is. Met die diefstal van koperkabels het Telkom ook begin om hul kabelinfrastruktuur te verminder.
VESEL (FIBRE): Met die koms van SEACOM, EASSAY en WACS se seekabels het vesel posgevat in Suid Afrika. Die hele land lê vol vesel, maar die kleiner dorpe is ver agter met die uitrol daarvan. Die stede en groter dorpe kry voorkeur.
Oudtshoorn het nog nie FTTH (Fibre to the home) nie. Die vesel wat wel hier gelê is, is bekend as “metro fibre” en net vir groot besighede bedoel.
MOBILE / SELFOON: Data op die selfoonplatform is duur in vergelyking met ADSL en FIBRE en daar is geen “uncapped” opsie nie. LTE is ook nie oral beskikbaar nie.
WIRELESS: Daar is ongelooflik baie diensverskaffers in hierdie segment. By die meerderheid diensverskaffers moet jy toerusting koop voordat jy kan konnekteer. Daar is diensverskaffers wat die toerusting vir jou gratis kom installeer. Die spoed op sekere van die pakkette is nie baie standvastig nie.
Omdat die netwerk met ander gebruikers gedeel word, is daar sekere tye van die aand wat dit stadig en byna onbruikbaar is, en baie gebruikers dit klassifiseer as nutteloos.
Maak eers goed seker waarvoor jy jou internet wil gebruik, doen jou huiswerk, praat met ander verbruikers en kyk na al die opsies wat in jou area beskikbaar is en teen watter pryse, en neem ’n ingeligte besluit.
Sommige kontrakte is vir tot twee jaar bindend sodra jy daarvoor geteken het.