13 wat glo roof moet langer wag

Deur Garnett Wicomb
UITSPRAAK in die saak teen dertien verdagtes wat na bewering die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton van onder meer kontant en selfone beroof het, moes verlede Donderdag in die Oudts­hoorn Streekhof weens die siekte van een van hul regsverteenwoordigers uitgestel word.

Cheslin Bruintjies, Cordwill May, Patrick Malgas, Dawid Swarts, Corné Kammies, Sam Olckers, Ashwill Oosthuizen, Numfriano Meyer, Patrick Fortuin, Wayne Johannes, Johan Goliath, Andrew Esau, Andrew Witbooi en Henry Fortuin staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Die aanklagte spruit uit voorvalle op 10 Ja­nuarie 2017 in Petunialaan, Bridgton waar hulle glo ver-skeie winkeleienaars beroof het.

Almal ontken skuld.

Die staatsaanklaer Corné Pretorius het die hof meegedeel dat een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, Eugene Roos, met siekte­verlof is.

Hy het die hof versoek dat die saak uitgestel word.

Die hofsaal was Donderdag volgepak van fami­lie en vriende van die verdagtes.

Die familielede en vriende was duidelik ongelukkig oor die uitstel van die saak.

Drie van die dertien beskuldigdes is tans op waarskuwing vrygelaat terwyl die ander tien beskuldigdes in aanhouding bly.

Die saak dien voor streeklanddros Neels Cronje en is verdaag tot 23 Augustus.