DIEFSTAL vanuit en vanaf voertuie het nie enige styging getoon die afgelope twee maande nie, maar wat wel kommer wek volgens die Oudtshoorn Polisie is die hoeveelheid voertuigbatterye wat uit en vanaf voertuie gesteel word.
Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, was batterye nooit ’n item wat uit voertuie gesteel is nie, en slegs af en toe vanaf ’n vragmotor omdat die batterye buite vasgesit is.
Die Polisie kom gereeld op batterye af terwyl hulle optredes doen en tweedehandse handelaars besoek, maar kan nie beslag lê of bewys aan wie dit behoort het nie aangesien die batterye nie gemerk is nie.
“Ons wil ’n beroep op voertuig-eienaars doen om hul batterye te merk deur dit te graveer met die voertuig se registrasienommer,” het Visser gesê.
Volgens Visser moet inwoners veral bedag wees wanneer voertuie in die nag buite persele of plekke met swak beligting parkeer word. “Dit maak jou voertuig ’n maklike teiken,” sê hy.
Visser het die volgende wenke geopper om hierdie diefstal hok te slaan en risiko te verminder:
• Moenie waardevolle items oop en bloot in die voertuig laat rondlê nie. “Jy lok die misdadiger uit om dit te steel.”
• Sluit altyd jou voertuig.
• Maak seker jou voertuig se vensters is toe.
• Moenie jou voertuig op ’n stil, verlate plek parkeer nie.
• Probeer jou voertuig op ’n verligte plek in die nag parkeer, byvoorbeeld onder lamppale.
• Voertuigbatterye word gereeld gesteel, maak seker jou battery is gemerk.
• As jou voertuig met ’n afstandbeheerder sluit, maak seker hy is gesluit. Moenie wegloop en die knoppie druk en dink die voertuig is gesluit nie.
• Moet nooit goedere agter op ’n bakkie onbewaak los nie.
• As jou bakkie ’n kappie op het, maak seker dit is ook gesluit en dat die vensters toe is.