Van pyn tot vreugde – hier blom ’n ander Protea

Glenton Stuurman saam met sy ouers, Hendrik en Catherine. (Foto’s verskaf.)
Glenton Stuurman in sy Proteakleure.

Ná die aanslag vanjaar van die Covid-19-pandemie en die dood van sy ma in Oktober, het November 2020 egter ook vir hom groot vreugde gebring, het die nuwe Protea-naatbouler, Glenton Stuurman, aan Die Hoorn vertel.

Glenton, Oudtshoorn se eerste Protea-krieketspeler, vertel: “Ek het my ma Catherine in Oktober verloor. Sy was glad nie ’n siek mens gewees nie, en dit was ’n groot skok toe ek die nuus kry dat sy skielik oorlede is en van ons weggeneem is. Dit was emosioneel baie moeilik, veral omdat dit so onverwags was. Sy was nie eens siek nie.”

Sy boulvernuf het daaronder gely, omdat “ek ’n emosionele wrak” was.

“Maar die droom en visie wat my ma vir my gehad het, het my geïnspireer en my gehelp om die pyn te verwerk. Al was sy nie meer daar nie, sou sy wou hê dat ek gefokus moet bly en steeds my drome verwesenlik. Toe ek dit besef, het dinge bietjie makliker vir my geraak.”

Maar toe kom 22 Oktober en word sy dogtertjie< Gianna, gebore en begin die hartseer plek maak vir vreugde en liefde, vertel hy.

En kort daarna in November kom sy insluiting in die die nasionale span wat Engeland in twee krieketreekse aandurf!

“Ek wil ’n aanwins wees vir enige span waarvoor ek speel,” sê hy vasbebeslote. En boonop was sy familie nog altyd daar vir hom, deur dik en dun. “Ek het nog altyd, ook nou, ’n baie goeie support base rondom my.”

Glenton is op 10 Augustus 1992 in die Oudtshoorn Hospitaal gebore, en het sy laerskoolloopbaan aan Protea Primêr voltooi. Hy sê dit was egter by die Hoërskool Môrester waar sy liefde en passie vir krieket gestalte gekry het. “Ek kom uit ’n baie sportiewe familie. Sport was dus altyd iets wat om my en voor my beoefen is. My broer het ook vir die SWD krieket gespeel. Ek wou altyd saam speel en het eindelik in sy voetspore gevolg,” vertel hy.

Volgens Glenton het hy as kind aan alle sportsoorte op skool deelgeneem. “Die main ding was bloot om buite te kan wees en om te kan speel. Maar ek het nooit verwag dat krieket vir my ’n loopbaan of so gaan word nie. Eers op hoërskool, toe ek besef sport kan ’n loopbaan wees, en het ek dit ernstig begin opneem.”

Hy was ook ‘n kranige rugbyspeler op sy dag. “Ek het byna net so baie daarvan gehou as van krieket. Ek moes egter eindelik kies tussen die twee. En ek is beslis nie spyt dat ek krieket gekies het nie,” sê hy.

Sy krieketloopbaan het nederig begin met die KFC-mini-krieket-inisiatief. “Daarna het ek net aanhou speel. Eers was dit fun and games, maar in 2010 met my insluiting in die SWD o.19-krieketspan het ek al hoe meer besef dat daar vir my ’n toekoms in dié sportsoort was,” sê hy.

In 2013, met sy eersteklas-debuut vir die senior SWD-krieketspan, het hy krieket baie ernstig begin opneem. Sy droom om net vir SWD te speel het vinnig verander na die droom om sy land te verteenwoordig.

Op Oudtshoorn het hy onder meer vir Harlequins en Union Stars klubkrieket gespeel, en toe ook vir George Krieketklub voor hy die Wes-Kaap verlaat het. “Ek het die voorreg gehad om oorsee klubkrieket te speel, asook vir die SA Akademie-span en die SA Ontwikkelingspan.” Hy was ook lid van die SA A-span wat in 2019 teen Engeland gespeel het.

Hy vertel daar was deur sy loopbaan menige spanmaats en afrigters wat hom geïnspireer het en onder wie se leiding hy sy vernuf en tegniek op die krieketveld te danke het. “Daar is so baie, ek kan hulle nie eens noem nie,” sê hy.

Glenton, wat tans provinsiale krieket vir die Warriors in die Oos-Kaap speel, sê dis vir hom ’n groot eer om ingesluit te wees in die Proteaspan wat reeds in die T20-reeks teen Engeland gespeel het en met die Eendagreeks wat voorlê. “My droom sal egter eers heeltemal verwesenlik word as ek vir die Proteas op die veld draf!”

Al bieg die 28-jarige Glenton dat dit seker beter sou wees as sy loopbaan vroeër begin het, met meeste nuwe Proteas wat al in hul vroeë twintigs vir internasionale krieket opgeroep word, glo hy dit is glad nie tot sy nadeel nie. “Inteendeel, dit is ’n voordeel vir my. Vyf jaar gelede het ek nog baie geleer, en ek voel op hierdie ouderdom meer in beheer en vol selfvertroue in wat ek doen. Die feit dat ek meer volwasse is, gaan baie help,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)