As jy lank genoeg in Oudtshoorn woon, is die kans goed dat jy al een of ander tyd by dr. Wessel Vermeulen uitgekom het. Miskien as pasiënt, miskien as ouer by ‘n skoolvergadering, miskien langs ‘n rugbyveld of sommer by een van die talle gemeenskapsprojekte waarin hy oor die jare betrokke was.
Die afgelope week het die 74-jarige dokter die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMA) se gesogte toekenning van die jaar vir uitstaande bydrae tot mediese uitnemendheid, leierskap, diensbaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid ontvang – ‘n toekenning wat baie mense meen hy lankal verdien het.
Vir dr. Wessel is die storie egter nie een van toekennings nie. “Mens doen jou plig en jou bes, nie om eer te verdien nie maar omdat dit in jou gene is,” het hy die week aan Die Hoorn gesê.
Hy is in Potchefstroom gebore, een van vyf kinders. Toe sy pa na Oudtshoorn verplaas word, het die gesin hulle in die Klein Karoo kom vestig.
“Destyds was Laerskool Wesbank ’n baie ander plek as vandag. Daar was drie klaskamers en die kloktoring. Dis omtrent dit,” vertel hy laggend. “Sportgronde was daar nie. Moderne geriewe nog minder,” onthou hy. Hy vertel verder dat hul eintlik maar “die arm rooiskool” in die oë van die ryker mense van die dorp was.
Hy verduidelik waar die naam rooiskool vandaan kom: “Daar waar die mooi gras en wilgerbome en netbalbane staan, was eenknobbelrige dorbankwoestyn. Elke dag is daar groot sokker met ’n verslete tennisbal gespeel. Fords teen Chevs en almal, meisies inkluis, het saamgespeel. Die prys was die goue Ilovo Kerriekoppie. Ons voete was rooi van die kaalvoet speel op die klippe en die stof wat daarmee saamgegaan het… vandaar die rooiskool!”
Die avonture van sy kinderdae het selfs daartoe gelei dat hy leer links skryf het. As jong seun was dit die kinders se taak om die hoenders te skuif. “Ons het daar in Parkweg oorkant oom Koos Raubenheimer se poloniefabriek en Presmelk gewoon en ’n hele blok vol hoenderhokke gehad.”
Hy en sy broers was besig om die hoenders met fietse in te jaag en terselfdertyd met hul wyseman-rietstawwe swaardgevegte te hou ná ’n Kersfeeskonsert by die kerk, toe hy van sy ouer broer se rug afgefoeter het en ’n stuk yster dwarsdeur sy elmboog gesteek het en dit vergruis het.
“Ene dokters Cox, Cohen en Ben Swart het my paar keer teater toe geneem met die gevolg dat my regterarm feitlik een volle jaar buite aksie was.”
Vir die meeste kinders sou dit die einde van tennis en rugby vir ’n ruk beteken het. Nie vir Wessel nie. Hy het homself toe geleer om links tennis te speel en het die hele vakansie lank sy linkerhandskrif geoefen terwyl sy arm herstel het. Teen die tyd wat hy terugkeer skool toe, ontvang hy ’n 10 vir sy skrif. Hy het gevoel hy speel nou beter links en het tot op 55-jarige ouderdom provinsiaal tennis gespeel. Vandag kan hy steeds met beide hande skryf.
By Laerskool Wesbank blink hy uit as leerling en word hoofseun, asook rugby- en tenniskaptein.

Op die foto is: L. Burger, W. Fourie, J. Bruwer, A. Vosloo, P. Struwig, N. Hanekom, W. Botha, J. Blignault, J. Louw. Voor v.l.n.r: S. Marais, W. Dowd, J. Nortier, Mnr. Van Pletzen (skoolhoof), W. Vermeulen, Mnr. Vrey (Afrigter), P. Niewoudt, N. Vermeulen en C. Hanekom. Foto: Laerskool Wesbank Argiewe
Later verhuis die gesin na Pretoria waar hy sy skoolloopbaan by Laerskool Valhalla en daarna Affies (Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria) voortsit. Die daaglikse pendel was geen grap nie – busry, stap en dan weer busry. Hy onthou hoe hy van 18:00 af op die marmertrappe van die Reserwebank op Kerkplein vir die 19:15 bus moes wag en sommer sy huiswerk daar voltooi het.
Toe sy pa later weer na Oudtshoorn terugverplaas word, kom hy na Hoërskool Oudtshoorn waar hy sy merk in rugby en tennis op provinsiale gebied ge-maak het. Dit was die dae van groot derby’s teen die destydse Tegniese Skool (vandag Langenhoven Gimnasium). “Ons was versigtig vir daardie ‘Tech high’ manne, party van hulle was groot en het selfs al baarde gehad. Ons was ‘Boys high’ genoem, want Struisies het eers in 1963 ’n gemengde skool geword.”

Een aand voor ’n groot kragmeting teen die Tech het Wessel en sy spanmaats van Hoërskool Oudtshoorn besluit hulle gaan die volgende dag ’n bietjie van hul eie oorlogvoering probeer.
“Ons het die vorige aand hope knoffel geëet en ons stoutgat voorry, Jock Swart, het ’n halwe stinkbom om sy kouers oopgebreek,” onthou hy laggend. Toe die spanne die volgende dag in die skrums pak, het die effek van die knoffel nie lank gevat om sy verskyning te maak nie.
“Daar was heelwat ‘bomme’ wat in daardie skrums afgegaan het,” vertel hy met ’n glimlag. “Dit moes gehelp het want ons het 33-0 gewen.”
Na skool vertrek hy na Tukkies om medies te studeer. ’n Weermagbeurs het dit vir hom moontlik gemaak om sy studies te voltooi. Daarna volg ’n militêre loopbaan waarin hy vinnig vanaf luitenant tot kaptein en later majoor bevorder word.
In Junie 1979 keer hy terug na Oudtshoorn as bevelvoerder van die Suid-Kaapse Mediese Kommandement. Teen 1981 open hy sy eie praktyk. Dit was die begin van ’n loopbaan wat vandag reeds meer as vier dekades strek.

Hy vertel met ’n glimlag van sy jong doktersdae toe hy ook in die Karoo gewerk het, tot so ver as Merweville. Deur die dag het hy privaat pasiënte in die hotel gesien, terwyl die spreekkamer in die middae ’n klein sinkgeboutjie was waar twee rye pasiënte buite gewag het. “Die een ry was vir mediese behandeling. Die ander ry was vir tande trek, en dit was vrek warm in daai gebou.” En die koste? “’n Rand ’n Tand!”
Hy, sy vrou en Wessel junior het ook op Katima Mulilo gewoon tydens die grensoorloog, nogals langs die kerk, met hulle eie bomskuiling. Daar het hy ongelooflike ondervinding opgedoen, klinies sowel as administratief, met minstens 50 diens-pligdokters onder sy bevel. Die publiek besef nie watter geweldige groot rol die SAW se Mediese Korps gespeel het om die burgerlike bevolking dwarsdeur Namibië en Suid-Afrika te bedien nie.
Sedert 2000 tot 2012 het hy ook jaarliks in Ierland gaan werk, maar dit is ’n lekker storie van baie woorde. Hy is lief vir skryf en skryf gereeld artikels vir joernale en handleidings vir SAMA asook die suksesvolle Covid-boekie “Die Stoute Corona” waarvan 15 000 eksemplare gedruk en landswyd deur skole verkoop is vir skoolfondse met 50% van die inkomste geskenk aan die naaste aftreeoord aan die betrokke skool.
Maar dalk is dit sy betrokkenheid by skole wat hom die naaste aan die hart lê. Vir meer as twintig jaar het hy op die beheerliggame van Laerskool Wesbank en Hoërskool Oudtshoorn gedien. Toe sy eie kinders op Wesbank was, het die pa’s gereeld oor naweke met pikke en grawe opgedaag om die harde grond los te maak en gras aan te plant.

“Ons het eers gewerk en daarna gebraai,” onthou hy. “Dit was ’n uiters gewilde samekoms en lekker verskoning vir ons manne om die vure aan te steek! Baie van die groot dinge in ’n gemeenskap gebeur wanneer mense net besluit om hand by te sit.” Onder sy leiding is die historiese kloktoring by Wesbank herbou en is sterk klem op tradisie, kultuur en trots geplaas. “Mens moet jou ‘komvandaan’ onthou, eer en die tradisie wat jy geleer het onderhou.
Sodoende kan jy ’n eenheidstrots tot voordeel van almal skep. Baie belangrik is dat geen ouer, kind of mens ooit uitgesluit, afgeskeep of afgesonder, om watter rede ookal, moet voel nie,” sê hy. Hy vertel graag hoe Wesbank se leerders tot 1 Mei kaalvoet skool toe moet gaan – ’n tradisie wat eie is aan die skool.
By Hoërskool Oudtshoorn het dieselfde trots gegeld. Toe die ou Boys’ High-baadjies en embleme gedreig het om verlore te gaan omdat die vervaardigers nie meer dit wou maak nie, was dit hy wat planne gemaak het om die meer as 100 jaar oue baadjie en rugbytrui te bewaar. Geld is by oud-leerders ingesamel om rolle materiaal te koop, baadjies is verpligtend op Maandae en Vrydae gemaak en toe moes Veka, die vervaardigers, net eenvoudig weer produseer.
Selfs buite die skole sit hy hand by en maak ’n verskil. Van die opgradering van badkamers by Eljada Kairos-skool tot betrokkenheid by verskeie skole in die dorp en op die plaas en talle ander gemeenskapsprojekte. Gedurende die Covid-pandemie was hy een van die stemme waarop die gemeenskap staatgemaak het vir nugtere, betroubare mediese raad.
Hy praat Afrikaans, Engels en Sotho – iets wat oor die jare gehelp het om mense van alle agtergronde op hul gemak te stel. Hy het ook vir ’n paar jaar die gewilde “Ipekonders” mediese inbelprogram saam met Paul Eilers en Marina Moller aangebied.
Maar wanneer die gesprek by sy grootste prestasie kom, draai die storie weg van medisyne. Hy en sy vrou, Marlene, het mekaar op Hoërskool Oudtshoorn ontmoet. Sy was sy eerste regte meisie.
En dekades later is hulle steeds ’n gedugte span en lief vir mekaar. Marlene was ’n onderwyseres en het Wiskunde en Kuns gedoseer. Sy is ’n uiters talentvolle kunstenaar, boervrou en ongelooflike betrokke ma en ouma. Saam het hulle vier kinders grootgemaak.
Hulle het ook die hartseer van die verlies van ’n dogter, Ilze, beleef – iets wat, soos hy dit stel, “van jou ’n ander mens maak”. Vandag leef die familie se nalatenskap voort. Wessel junior is ’n neuroloog in Pretoria. Wikus is ’n uroloog in Nieu-Seeland. Sy dogter Sunet het ’n meestersgraad in Landbou en spits haar toe op weiding. Sy werk by AgroFors. En dan is daar die agt kleinkinders. Wanneer hy oor hulle praat, verander sy stemtoon. “My grootste rykdom,” sê hy.
Van aftree is daar steeds geen sprake nie. Nie omdat hy moet werk nie, maar omdat hy wil. “Ek het nog nooit iemand ontmoet wat harder as my eie vrou kan werk nie, en sy gaan my beslis aan die werk steek,” skerts hy. Want ná 45 jaar in die spreekkamer, dekades se betrokkenheid by skole, sport, gemeenskapsprojekte en diensorganisasies, bly dieselfde ding hom dryf: Mense…En dit is waarom hierdie toekenning Oudtshoorners laat voel asof dit aan een van hul eie toegeken is.
Vir die dorp is hy nie net ’n bekroonde dokter nie. Hy is dr. Wessel vir wie niks ooit te veel moeite is nie. (ANGELIQUE ERASMUS)