Wanneer dit by versekering kom, is Laurika van Rensburg se naam al byna twee dekades lank sinoniem met kundigheid, diens en betroubaarheid.
Aan die begin van die jaar het sy by die span van Klein Karoo Finansiële Dienste (KKFD), ’n filiaal van die Klein Karoo Groep, aangesluit om die onderneming se groeiende korttermynversekeringsafdeling verder te versterk.
Ná haar matriekjaar by Langenhoven Gimnasium, het Laurika aanvanklik in die rekenaarsagtewarebedryf gewerk voordat sy in 2006 die wêreld van versekering betree het deur eise te hanteer. Dit het nie lank geneem voordat sy haar voete gevind het in die bedryf nie.
Ná soveel jaar in die bedryf is geen dag dieselfde nie en elke dag bring nuwe uitdagings en geleenthede.
Oor die jare het sy uitgebreide ervaring opgedoen in feitlik elke aspek van korttermynversekering, of dit nou nuwe polisse, eise, onderskrywing, wysigings vir persoonlike of besigheidsversekering is – Laurika beskik oor die kennis en ervaring om kliënte van A tot Z by te staan.
Dit is juis hierdie kundigheid wat KKFD vir bestaande en nuwe kliënte wil bied, en daarom het hul haar deel van die span gemaak. Vir Laurika is hierdie nuwe hoofstuk egter meer as net ’n loopbaanstap.
“Wat hierdie nuwe hoofstuk in ’n industrie waaroor ek passievol is, ekstra spesiaal maak, is dat ek in my Pa se voetspore volg,” vertel sy.

Foto: Die Hoorn argief
Haar pa, wyle Johan Grundling, was vir baie jare verbonde aan die Klein Karoo Koöperasie se korttermynversekerings-afdelng.
Vandag stap sy dieselfde pad binne dieselfde groep en bou voort op die waardes van diens en vertroue waarvoor die orga-nisasie bekend is.
Volgens Laurika is uitstekende dienslewering, menslikheid en ’n passie om te help, die hoeksteen van haar benadering tot korttermynversekering.
“Ek sit myself in my kliënt se posisie. As ek dalk langs die pad in ’n ongeluk beland, gaan ek dalk nie onthou wie om te skakel by my versekeringsmaatskappy nie, maar ek gaan beslis my makelaar bel – die persoon met wie ek saamwerk en wat my polis verstaan,” verduidelik sy.
Daarom is dit vir haar geen moeite om ná kantoorure beskikbaar te wees wanneer kliënte hulp nodig het nie.
Die Hoorn kan self getuig van Laurika se deeglikheid en professionaliteit. Ná ’n volledige hersiening tydens die koerant se jaarlikse hernuwing vir ons versekeringspolisse, en ’n uit-eensetting en verduideliking daarvan in eenvoudige, verstaanbare taal, het sy daarin geslaag om vir die maatskappy ’n beduidende bedrag per maand te bespaar, terwyl die dekking selfs verbeter is met bykomende voordele.
Laurika nooi bestaande en voornemende kliënte om by haar kantoor in die Klein Karoo Groep se hoofgebou by 145 Parkweg in te loer en ’n afspraak te maak, of skakel 044 203 5100 of stuur ’n e-pos na laurika@ kleinkaroo.com.
Met haar jarelange ervaring, passie vir mense en persoonlike benadering tot dienslewering, is Laurika van Rensburg besig om haar merk by KKFD te maak.
